JOHN MITCHELL: BULLS WEN LAASTE TUISWEDSTRYD MAAR SA SPELERS NIE OP STANDAARD

Jul 9 • General News, Pale Toe, South Africa, Springboks, Super Rugby, Super Rugby Logs, Super Rugby News, Super Rugby Results • 2780 Views • Comments Off on JOHN MITCHELL: BULLS WEN LAASTE TUISWEDSTRYD MAAR SA SPELERS NIE OP STANDAARD

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

-Simon Riekert (Loftus Versveld)

Embrose Papier breek weg met die bal in die Bulls se laaste tuiswedstryd van die 2018-SuperRugby toernooi. ©Ronel Cronje

Embrose Papier breek weg met die bal in die Vodacom Bulls se laaste tuiswedstryd van die 2018-SuperRugby toernooi. ©Ronel Cronje

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Daar was Saterdagmiddag ʼn paar getroue Bloubul ondersteuners op Loftus Versveld wat na twintig minute in die wedstryd teen die Jaguares gemeen het dit was pure verniet om die koue te trotseer: hul geliefde Bulls is weer vanjaar oor die muur.
Nie eens die emosionele optog van Bloubul legendes van die afgelope 80-jaar voor die hoofwedstryd, sou die teleurstelling kon help verwerk nie.
Die Suid-Amerikaanse Jaguares het Pretoria-toe gekom om te wen en om bonuspunte bymekaar te maak vir die uitspeelrondes wat om die draai is, en dit het gelyk of hulle in hul doel gaan slaag.
Daar was toe reeds drie drieë op die telbord vir die besoekers, voordat Johnny Kotze die tuisspan se winterslaap onderbreek het en agter die doellyn gaan kuier het.
Daarna het dit begin lyk of die Bulls wil begin rugby speel en het hulle die volgende twintig minute die botoon gevoer met nog drieë deur Embrose Papier en Jesse Kriel.

Die Bulls het daarna nog drie drieë gaan druk om hul totaal op ses vir die wedstryd te staan te bring, teenoor die Jaguares se vyf drieë.

Die eindtelling was 43-34 in die tuisspan se guns aan die einde van ʼn reuse terugveg poging.

By die mediakonferensie was John Mitchell, hoofafrigter sigbaar verlig oor die uitslag; “ ek is beïndruk met die span se vermoë om na 19 minute met geen punte op die telbord nie, terug te kom en die wedstryd met nege punte te wen, dit was ʼn groot terugveg poging.”

Mitchell was veral vol lof vir sy senior spelers, Handre Pollard, Jesse Kriel, RG Snyman en Warrick Gelant.

Sy kommentaar dat die senior spelers se geesdrif die junior spelers op die selfde spelpeil gekry het, was opvallend: “hulle het ʼn uitstaande seisoen tot dusver gehad, as jy vergelyk met vorige seisoene, was hulle wisselvallig, maar die Toetsspelers was vanjaar baie goed. So ons vra nou dat die tweede, derde en vierde beste spelers moet aanpas, hul kant bring en by die partytjie opdaag.”

Vroeër verlede week het Mitchell die aap uit die mou gelaat oor die Bulls se intensie om binnekort topklas spelers na die unie toe toe te lok.

Mitchell is maar al te bewus van die Bulls se onvermoë om uitspeelrondes te haal, iets wat die span laas in 2013 kon doen toe die Brumbies hulle met 26-23 op die einste Loftus geklop het in die halfeindstryd van daardie jaar se toernooi.

Hy het, toe hy by Loftus opgedaag het, gewaarsku teen ʼn euforie van verwagtings, te midde van die feit dat die sitplekke en losies van die wêreldberoemde stadion al leër begin word het.

Maar verlede week het Mitchell bevestig dat hulle besig is om met wêreldklas spelers te praat om by die Bulle kontrakte te teken; “ek praat van wêreldklas spelers, nie Curriebeker spelers nie. Dit is belangrik dat ons die regte mense hier kry en ook om die verwagting van die ander Bloubul-spelers te bestuur wie in kompetisie met daardie spelers sal wees om die span te haal. Dit sal ongelukkig beteken dat ʼn paar spelers die unie sal verlaat.”

Mitchell het weereens van sy metode van afrigting gepraat; “jy moet eerder op kwaliteit as kwantiteit konsentreer en seker maak dat daar ʼn gesamentlike fokus op die doelwit, in jou span is.”

Hy het nog ʼn realiteit-bom gelos toe hy gesê het dat Suid-Afrikaanse spanne in die SuperRugby-reeks sukkel omdat hulle nie die kwaliteit en gehalte spelers het om gereeld op die vlak te presteer nie.
“Elke Suid-Afrikaanse span sukkel omdat ons nie groepe spelers het wat uitsluitlik van SuperRugby-kwaliteit is nie. Ek dink ons gis en duimsuig dat ons dink ons die toernooi kan wen, gedagtig aan die omvang en hoeveelheid wedstryde en die vlak waarop daar gespeel word. Daar is volgende jaar 12 weke se agtereenvolgende wedstryde na die tweede loslootjie, jy kan nie op ʼn handjievol Super Rugby-spelers staatmaak om jou deur te trek nie. Dis ʼn grap. Op die ou einde plaas jy jong manne in situasies waarvoor hulle nie gereed is nie, dit is die realiteit wat deurslaan en op die telborde reflekteer.”

Related Posts

« »