JY’S HEELTEMAL TE FYNGEVOELIG OOR ONS RUGBY #PaleToe

May 20 • General News, Pale Toe • 2148 Views • Comments Off on JY’S HEELTEMAL TE FYNGEVOELIG OOR ONS RUGBY #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Dwarslat Duvenhage skryf vanuit die kleedkamer vir #PaleToe
“Soos ‘n V-8 duble overhead cam, variable valve timing enjin met ‘n tenk vol paraffien, só is dit met onse spanne. Alles, man alles wat jy nodig het, maar ons kom nie uit die blokke nie”, sê my buurman vanoggend en ek sien die man is moeilik.
“Ek lees van die slimme vent wat vir Woudaarkom stories skryf. Die man vertel dat ons moet afkoel en groot word oor ons spanne, moet krediet gee waar dit hoort en ons moet perspektief kry oor onse edele spel.
“As die knaap gedink het hy kan ons gemoedere temper met ‘n paar vermanings, moet ek hom uitnooi om Saterdag na die wedstryd te kom kuier. Die manne is mos ons s’n en soos ‘n pa met sy seun sal raas as hy twak aanjaag, sal ons mos doen met onse kêrels. Nes die keer toe Francois Pienaar aan ‘n paar wyses gesê het na ons loesing teen die Engelse op Loftus in 1994: ‘die verskil tussen Francois Pienaar en Aspoestertjie, is dat Aspoestertjie darem by die bal aangekom het.’
“En as Fleckie, Franco en Nollis se manne nie perform nie, moet ons mos raas of weet die man nie ons is groot nie?”
Kyk, die rugby gemoedere lê maar laag vandeesweek, kom ek agter.
“Dis als die politiek en julle gekuier oor die simpel spel se skuld dat Gerhard se gesondheid nie wil beter nie”, sê sus Katryn oor my neef.
“Hy’t die Hollander wat die Bokke afgerig het se stories so letterlik opgeneem dat sy hele sisteem ingekonk het. Dis mos na laas Saterdag se tjank aftrap wat die Aussies en die Sonwolwe onse Bulletjies en Streeptruie gegee het, dat sy griep toe inskop”, sê sy en ek sien ons is by haar ook in die moeilikheid oor ons gedrag.
“Die Hollander meen blykbaar te sê dat Toetie nie moet karring aan sy Franse wenspan nie en dat sy Bokke onse jonges hier ‘n paar leste kan leer,” stoom sy.
“Ek sê toe vir Gerhard maar hy het mos vir Elton, Faf en Lambie en voorlangs Etzebeth, Du Toit en die mooi Bloubul-seuns RG Snyman en Jason Jenkins, en dan kan hy nog vir Lood byreken as hy die dag opdaag. Dan is daar Damian de Allende, Jesse Kriel, Juan de Jongh, Jan Serfontein…
“Meer as hulle en hul vriende het ons mos nie nodig nie, allermins die Ministertjie se kwota praatjies.”
Ek dog die neef van my is nog aangetas, maar vanoggend hoor ek by Jan Slaghuis dat Gerhard gister in Toetie-hulle by Loftus vasgeloop het.
“Hy sê toe vir die man hy moet mooi praat met onse Nollissie en as hy al gepraat het, hoop ek hy’t mooi gepraat en geluister, want my seisoenkaartjies is dêm duur.”
Blykbaar het neef Gerhard verneem of Toetie en kie die Bulle se bloudruk kom afskryf het, want daar is slimmes wat meen dit is ‘n siekte met ons spanne dat hulle moet wag dat iemand opdraf om hul aan die brand te kry.
Intussen weet ons dat enige span se grootste toets tog teen die manne van Nieu Seeland is en hierdie toets het Johann Ackermann se Leeutjies teen ‘n sukkelende klomp Blues geslaag, laas naweek.
Tussendeur sien Dwarslat ‘n bekommerde Fleckie en nog ‘n paar slimmes wat meen die naweek se grote op Loftus, is ‘n droë lopie op pad uitspeelwedstryde toe.
Dis toe dat Dwarslat luister na Baas Naas se woorde van wysheid op Groot FM se Donderdag-aand program, Groot Rugby.
Hy en Susan Botha (nie van dieselfde familie nie, maar duidelik dieselfde intellek), praat daar dik stukke rugby, kaalvoet en kaalvuis.
“Dis moeilik om hierdie een te roep, want beide spanne is half deurmekaar en ek dink dis vir hulle ‘n ontnugtering om te sien hoe hul seisoen uitgedraai het en ek is nie meer seker dat Loftus nog ‘n bondgenoot van die Bulle is nie.”
Intussen is daar manne wat bekommerd raak oor onse Nollisse, Franco’s en Fleckies. Diesulkes sê daar’s nog hoop as afrigters nie manne wil forseer in posisies in nie, soos met Cheslin Kolbe. Jy’s of ‘n gebore haker en skrummie of nie. Vra maar vir Werner Swanepoel, Joost en Uli en as jy wil, vir CJ Stander wat ‘n lang blou tong uitsteek vir Heyneke Meyer. Hy het blykbaar aangehou dat CJ te klein gebou is. Nou is die einste Stander kookwater in Ierland.
Dwarslat sluit altyd af met iets positiefs. Gaan kyk op www.rugby.co.za (Groot Rugby) en luister na onse Naas.
En hoe hy sê Mallet se kop raas oor spelers se grootte en hoe gevaarlik hulle kan wees.
Maar soos die edele Mof Myburgh van Mannetjies Roux gesê het: “Mannetjies is gevaarlik-vir albei spanne!”
Vrede en geluk vir jou span hierdie naweek.
Dwarslat.

Related Posts

« »