Kavaliers dring deur na kwarteindronde van Supersport Rugbyreeks

Jun 26 • General News, SuperSport Challenge • 1807 Views • Comments Off on Kavaliers dring deur na kwarteindronde van Supersport Rugbyreeks

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die Boland Kavaliers het hul plek in die kwarteindronde van die Supersportrugbyreeks bespreek met ‘n 12-20 sege oor die Oostelike Provinsie Olifante te Despatch. Die rustydtelling was 0-10 in die guns van die Kavaliers.

Die uitslag van dié maak-of-breek kragmeting, wat plaasgevind het in die WJ de Wet stadion, was bepalend in terme van die Kavaliers se lot in die kompetisie. Boland móés die wedstryd beklink om te vorder tot die uitspeelrondes van die kompetisie, met hul rotsvaste verdediging ‘n duidelike aanduiding van hul titel-aspirasies.

Die Kavaliers kon daarin slaag om die tuisspan vir 76 minute sonder enige punte te beperk, met die Olifante wat laat in die wedstryd vir die eerste keer deur die Kavaliers se verdediging kon beur.

Die Kavaliers het hul punte-rekening in die 9de minuut van die wedstryd geopen, met ‘n strafdoel deur die immergroen loskkakel Elgar Watts. Kórt hierna het Boland hul voorsprong verder gerek tot 10 punte, danksy ‘n verdoelde drie deur die woelige loskopstut Arnout Malherbe.

Kort na rustyd het die losvoorspeler Ludio Williams Boland se tweede drie aangeteken, met Watts weereens in die kol met die doelskop.

Verspeelde kanse en ‘n gebrek aan afronding het die Kavaliers verhoed om verdere drieë tot hul telling te voeg, maar ‘n tweede strafdoel deur Watts in die 67ste minuut het die Kavaliers gerieflik met 20 punte laat voorloop.

Die Olifante het laat in die wedstryd twee drieë aangeteken, met OP se flank Brendon Brown en die haker Mbeko Kota wat albei agter die doellyn gaan kuier het. Simon Bolze was suksesvol met een doelskop.

 

*Die Boland Kavaliers durf Saterdag 30 Junie vir Griekwas aan te Kimberley, in een van vier kwarteindronde-kragmetings in die Supersport Rugbyreeks. Meer besonderhede rakende wedstrydbepalings sal binnekort bekendgemaak word.

 

PUNTEMAKERS:

Oostelike Provinsie:

Drieë: Brendon Brown, Mbeko Kota

Doelskop: Simon Bolze

 

Boland Kavaliers:

Drieë: Arnout Malherbe, Ludio Williams

Doelskoppe: Elgar Watts (2)

Strafdoel: Watts

Related Posts

« »