LOJALE BOKONDERSTEUNERS LEEF IN ‘N GEKKEPARADYS

Oct 6 • Australia, General News, International, National, New Zealand, Pale Toe, Rugby Championship News, South Africa, South Africa, Springboks, The Rugby Championship • 7451 Views • Comments Off on LOJALE BOKONDERSTEUNERS LEEF IN ‘N GEKKEPARADYS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

ASICS10-9782

Simon Riekert-Johannesburg

 

Daar was op ʼn stadium ʼn Springbokafrigter, André Markgraaf wat weens ernstige politieke vergrype (hy het die k-woord gebruik om na ʼn senior rugby administrateur te verwys) nie langer as ʼn jaar in sy pos was nie.
Dit het in 1996 afgespeel.
Hy het ook daarvan gepraat dat vir sy span, die Springbokke “wen nie alles is nie,” en dit het ook bygedra daartoe dat hy vroeër eerder as later sy pos ontruim het.
Die Suid Afrikaanse rugbypubliek hou nie van ʼn verloorspan nie, veral nie as dit hul eie span is nie.
Dus, as voorloper tot die laaste kragmeting in vanjaar se Kampioenskapsreeks teen die All Blacks, is dit te wagte dat die publiek sou vuur spoeg oor hul span se vertoning.
Sosiale media was aan die brand na verlede Saterdag se gelykopstryd (27-elk) teen die Wallabies, hoofsaaklik omdat die pyn van die vernedering teen die All Blacks drie weke gelede nog vars in die geheue is. 57-0 is ʼn loesing en vernedering, hoe jy ookal daarna kyk en hoe die Kiwi’s se afrigter ookal probeer krediet gee vir die Springbokke se spel.
Eintlik is Steve Hansen net nice met ons.
Asof dit nie genoeg vet in die vuur was nie, vra joernaliste uit oor die gerugte dat hulpafrigter Johan van Graan dalk die afrigterspos by Munster gaan kry as Rassie Erasmus terugkom Suid Afrika toe.
Allister Coetzee vererg hom bloediglik, en wys die joernaliste daarop dat dit hul werk is om eerder oor die gelykopstryd of die komende naweek se All Black wedstryd te praat.
Skaars het die arme rugbypubliek die hoofafrigter se argwaan ontgeld, of een van Coetzee se ander systappies, hulpafrigter en ewe kontroversiële persoonlikheid mediese dokter Brendan Venter spoel sy mond uit: “As jy een van daardie ondersteuners is wat nie kan sien dat. As wen al is wat jy sien. Hou op kyk. Manne verdien respek nie kritiek nie.(sic!)”
Venter was as speler en as afrigter nog altyd ʼn moeilike kalant.
Wie sal die berugte onderhoud in 2010 vergeet toe Saracens teen Racing Metro met 21-24 verloor het en Venter sy frustrasie teenoor sy base op die media uitgehaal het.
Venter hou daarvan om kontroversieël te wees.
Arme Coetzee val in die slaggat wat Venter geskep het deur eergister daarna te verwys dat Venter “verkeerd verstaan is.”
Dit is so goed soos om gedurende ʼn onderhoud te sê, “geen kommentaar, “ ʼn reuse fout wat beslis uitgebuit sal word deur joernaliste.
Nou, ʼn dag voor die wedstryd in Kaapstad, hoop die druk verder op in die Bokkamp.
Coetzee meen dat die ondersteuners weereens onnosel is om te dink dat die Bokke die All Blacks kan klop: “om te dink dat ʼn span wat net drie maande bymekaar is die All Blacks maklik kan klop, is om in ʼn gekkeparadys te leef.”
So daar het jy dit, as jy die Springbokke ondersteun, moet asseblief nie negatief wees teenoor die span nie, “die manne het respek nodig.” Dit is doktersvoorskrifte, vars uit die Twitter rekening van die opportunis, Brendan Venter wat nog altyd sy kop in ʼn bynes druk en dan verdwyn.
Daarmee saam, geagte getroue Springbokondersteuner, sê die hoofafrigter sy span is nie goed genoeg nie.
Presies wat die slimme dokter nie wil hê ons as rugbypubliek moet sê nie.
My groot fout was dat ek te opgewonde geraak het oor die 3-0 reeksoorwinning van die Springbokke teen ʼn gemiddelde tot powere Franse span wat hier getoer het.
Soos miljoene ander hoopvolles het ek gehoop Coetzee-hulle is op die regte spoor, net om verlede en voorverlede Saterdag te bewys ons is maar ʼn doodgewone gemiddelde wêreldspan wat teen ʼn gemiddelde Aussie-span speel en tweekeer gelykop speel.
Die Springbokke het hul kans gehad om tweede te eindig in vanjaar se Kampioenskapsreeks, maar het hulle kanse verbrou om nie Australië te bêre nie. Twee keer.
Indien Australië teen die Los Pumas wen in Mendoza en Springbokke verloor, soos die hoofafrigter voorspel het in Kaapstad, is ons derde in die kompetisie. Slegs een plek bo die Pumas wat geen wedstryd kon wen in hierdie kompetisies nie.
Dan is ons presies waar Coetzee en Venter ons geplaas het; doodgemiddeld.
Die afrigtingspan beskou verwysing na die 2016-seisoen in onderhoude as ʼn vloek, “ons wil nie daaroor praat nie,” maar benewens die bedrieglike oorwinning oor die Franse, stuur 2017 op dieselfde rampspoed af.
Al verskil is net dat die hoofafrigter, Allister Coetzee dit sal afmaak as “daar is hoop en hoogtepunte/ ek is tevrede met die span se vordering/ gegewe waar ons nou trek.”
Dit slaan my dronk dat Coetzee en Venter nie in hul bekke geruk kan word deur SARU hieroor nie.
Vir Jurie Roux en Mark Alexander is gemiddeld, goed genoeg.
Nooit as te nimmer sal jy dit uit ʼn Nieu Seelandse afrigter se mond hoor nie. Daarvoor is daar te veel respek vir die Bokembleem en dit waarvoor dit staan.
Ek weet ek loop dinge vooruit, maar moenie sê ek het julle nie voorberei nie.
Die onuitroeibaarheid van die onvermoë van die Springbok-afrigtingspan om van die Springbok weer ʼn gevreesde rugbykrag in die wêreld te word, haal my nou in.
SARU se voorgangers kon ‘n afrigter wat sy mond verbypraat fire in 1997.

Hulle het hulself ontman in 2017.
Ek weet ek is negatief, en ek het toestemming van die groot wit dokter om nie rugby te kyk Saterdag nie.
Maar ek gaan, want ek weet, al bly ek volgens die hoofafrigter in ʼn gekkeparadys, is my bloed nog steeds groen.

Related Posts

« »