MITCHELL IN DIE BULKRAAL

May 29 • General News • 686 Views • Comments Off on MITCHELL IN DIE BULKRAAL

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

JOHN MITCHELL IS AANGESTEL AS DIE NUWE DIREKTEUR VAN RUGBY BY DIE BLOU BULLE FOTO: #paletoeSimon Riekert-Midrand

Loftus Versveld het weer ʼn nuwe sleuteldraer om van Fort Loftus weer die ongenaakbare, ondeurdringbare blou bastion van die Noorde te maak, en sy naam is John Eric Paul Mitchell.
Die Blou Bulle Rugby Unie (BBRU) het gisteraand in ʼn ongewone, maar drastiese stap aangekondig dat Mitchell die nuwe direkteur van rugby by die unie word.
Mitchell sal ʼn ogie hou oor die Blou Bulle se Curriebekerspan, maar hy sal werklik eers die leisels oorneem aanstaande jaar wanneer hy die Superrugbyspan gaan afrig.
Hy neem sy intrek by Kirknesstraat in Julie vanjaar, nadat hy die USA Eagels rugbyspan afteken na die Junie internasionale toetsreeks en die Wêreldbeker 2019 kwalifiserende wedstryde.
Nollis Marais bly aan as Superrugby-afrigter tot aan die einde van die 2017 seisoen en hy neem dan die leisels oor by die Curriebeker.
Mitchell was vol lof vir die werk wat gedoen was by die USA Eagles, “ dit was ʼn groot voorreg om deel te wees van die ontwikkeling van jong manne se drome om te speel en af te rig vir hulle land en om ʼn Hoëprestasie model te sien vorm aanneem.”
Barend van Graan, HUB van die BBRU het gesê die aanstelling was “die volgende stap in die Bulle se omdraai strategie wat twee weke gelede aangekondig is.
“Ons maak seker dat daar volhoubare en langtermyn sukses vir die Bulle is,” het van Graan gesê.
“Ons het na kandidate binnelands en buitelands gekyk en die aanstelling van Mitchell is ʼn groot slag vir die unie, aangesien sy reputasie as afrigter en sy sukses vanselfsprekend is.
“Ek is seker John sal ons help om weer bekers te wen en om ons spelers en afrigters te ontwikkel.”
‘Mitch’(53), soos hy bekend is, is ‘n gebore Nieu Seelander (vanuit die dorp Hawera in Taranaki streek) en pa van drie.
Hy was bekend as vuurvreter losvoorspeler van die Waikato span (134 wedstryde, 86 as kaptein, 335 punte met 67 drieë) en alhoewel hy geen toetse vir die All Blacks gespeel het nie, was hy ses keer in die span wat in 1993 na die Britse eilande getoer het.
Hy was ook afrigter van die All Blacks (2001-2003) voordat hy in 2011 die Lions na Curriebeker sukses gelei het.
In 2012 was daar klagtes dat hy spelers met minagting behandel het, maar hy is vrygespreek op al 28 aanklagte, wat volgens hom begin het met Cobus Grobbelaar wat vir hom gesê het ’jy moet loop’.
ʼn Uitgerekte dissiplinêre proses het gevolg en hy is uiteindelik, na ʼn finansiële skikking, by die Lions weg met ‘n skoon rekord.
Mitchell het ook destyds genoem dat die aanvanklike klagte van sewe na 28 gegroei het en dat daar ʼn vendetta teen hom gevoer is.
“Ek weet dit het van die spelers af gekom nadat ek hulle oefenprogram drasties aangepas het.
“Grobbelaar het verwag ek gaan hom as blou-oog seuntjie hanteer, nadat ek vir hom gesê het dat hy harder moet werk vir sy posisie as flank.
“Ek het meer potensiaal in Derrick Minnie en Jaco Kriel gesien, en hy was vies daaroor.”
Mitchell het kort daarna in sy boek “Mitch-The Real Story” meer gesê oor sy tyd by die Lions.
Op ʼn vraag aan Nollis oor hoe hy voel na die aankondiging het hy gesê dat hy “teleurgesteld” is.
“Ek is bly vir Mitch, maar dis vir my ʼn teleurstelling dat ek nie my doelwitte kon bereik nie, ek het gehoop om Bulls rugby weer gesond te kry.”
“As julle gedink het ek is beneuk, moet julle hierdie man sien, hy gaan ʼn ander kultuur hier vestig”, het hy gesê.
Die reaksie op sosiale media was gemengd, met min of meer ewe veel positiewe as negatiewe opmerkings oor Mitchell se aanstelling.
Luister hier https://iono.fm/e/435685?autoplay=1 na wat Naas Botha oor Mitchell se aanstelling sê.

Related Posts

« »