Naas Botha se afrigtingsklinieke skop af!

Jan 25 • General News, Pale Toe • 2896 Views • Comments Off on Naas Botha se afrigtingsklinieke skop af!

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

“Hierdie is waarde toevoeging en om seker te maak die speler is beter toegerus, ek wil nie ʼn ou se werk uit sy hande vat nie, maar help om ʼn beter speler met ʼn beter standaard van spel te verseker vir more.”

Só sê een van die rugbywêreld se legendes wat twee rugbysessies aanbied vir skoliere by die Hoërskool Garsfontein, Naas Botha.

“Daar is ʼn wanpersepsie oor taktiese skopwerk en wedstryd na wedstryd word dit duidelik dat taktiese skopwerk glad nie gebeur soos wat mense dit wil sien nie, en allermins hoe skoppers dit wil uitvoer”, sê Naas.

“Die skoppers moet die konsep van takties skop verstaan voordat ek hulle kan leer hoe om takties te skop.

“Ons spelers word afgerig soos wat die Australiërs skop en dis nie altyd suksesvol nie.

“As gevolg van die verandering in reëls van die spel, gaan strafskoppe, doelskoppe en skepskoppe al hoe belangriker word. Ironies, as daar ʼn strafskop toegeken word gebeur dit al hoe meer dat die skopper glad nie die druk wat verwag word op die opponent regkry met sy skop nie, hy skop 10 meter voor hom uit wat die voordeel van die strafskop dadelik kanselleer en eintlik lagwekkend is.”

Naas sê dat die redenasie dat skoppers wat vir ‘veiligheid’ na korter afstande mik, dieselfde is as wat jy twyfel of ʼn haker die bal reg gaan ingooi by die lynstaan, “dis die spelers se werk, net soos ʼn skrumskakel ʼn bal reg by die bek van die skrum moet ingooi”.

“Jy leer die maklikste en vinnigste op skool om jou skoptegniek reg te kry en ons sien dat internasionale standaard vinnig besig is om te vervaag, veral hier by ons.”

Naas meen dat die ghoeroes van skopwerk die blaam moet dra vir swak skopwerk, takties en vir punte.

Hy gaan ook na die rol van losvoorspelers se spel kyk tydens taktiese skopwerk, “teen die skopper en vir die skopper”.

“Ons gaan veral kyk na voorspelers se rol om in afwagting op ʼn strategiese skop, minder druk op jouself te plaas.”

“Daar word gemiddeld drie skoppe per wedstryd afgestorm en dit kan ʼn groot invloed op spanne se druk hê.”

Naas wil help met die hoeke en lyne wat losvoorspelers moet hardloop in ʼn poging om skoppe te neutraliseer en as dit afgestorm word, watter is die beste veldposisies om in te neem.

Naas gaan ook raad gee oor die sogenaamde ‘offload’ of uitgee; “die speler wat die bal ontvang in die “offload’ moet in ʼn beter posisie wees, en nie net die bal buitentoe aangee sonder dat hy persies weet waar die man is wat die bal gaan ontvang nie.”

“Die spelers wat wil ‘offload’ moet nie eers wanneer hy in die moeilikheid is die bal uitgee nie, hy moet dink wat hy wil bereik met die bal wat hy dra voordat hy uitgee.”

Naas is ook mede skrywer van die boek ‘Kreatiewe Rugby’ en hy en Kobus Neethling krap die slagaar van kreatiewe rugby oop in hul boek.

“Ons weet almal dat daar oral stemmeopgegaan het verlede jaar oor kreatiewe rugby nadat ons internasionaal skandes gemaak het, maar dis maklik om te sê ons het kreatiewe denke nodig. Wat beteken kreatiewe denke?”

“Sommige mense het gesê die Springbokke moet soos die Leeus speel, maar ons span was nie goed toegerus nie en het nie die basiese vaardighede nie. Dit is wat jy nodig het om wenrugby te speel, want dan kan jy jou wedstrydplan aanpas, stadiger maak as dit nodig is en versnel op die regte tyd. Maar al jou komponente van die spel moet in plek wees vir die hele span.”

Naas weet ook dat die vraag na detail afrigting dringend noodsaaklik is vir internasionale sukses; “ons het te veel gekonsentreer op spelpatrone en ander aspekte van die spel en detail afrigting verwaarloos.”

“Almal wil die groot prentjie aanhang, maar jy moet eers die klein prentjie kan sien voordat die grote vir jou sin maak.”

Naas reken dat daar spreekwoordelik te veel pap op die grond geval het met die standaard van ons spelers se afrigting; “jy moet die spelpatroon verstaan maar jy kan nie eers behoorlik skop, vang en hardloop nie.

“Dis net vaardigheid wat jou kan toelaat om drieë te gaan druk en ons het mense met vaardigheid die land sien uitgaan en nie by mense wat afrig dat rugby by verdediging begin nie, verdediging is net deel van die spel en as ons die All Blacks wil klop moet ons meer drieë as hulle druk, dis tog eenvoudig waar.”

Naas se kliniek konsentreer op kinders tussen 10 en 18 jaar oud; “kinders is soos sponse en hoe gouer jy hulle leer, hoe beter en teen 13 jarige ouderdom verstaan jy al goed en is jou lyf al bietjie taaier.”

Naas se kliniek word op 28 Januarie 2017 en 4 Februarie 2017 by die Hoërskool Garsfontein aangebied.

Plekbesprekings word gedoen by naasbothaIP@gmail.com

Simon Riekert #paletoe

Related Posts

« »