NIEU SEELANDSE DROOM, OF NAGMERRIE?

Mar 23 • General News • 1463 Views • Comments Off on NIEU SEELANDSE DROOM, OF NAGMERRIE?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Centurion

Die Bulls is hierdie naweek letterlik in onbekende waters as hulle die eerste van twee weg-wedstryde in Nieu Seeland gaan speel.
Saterdag wag die Blues en volgende naweek die Chiefs op ʼn Bulls span wat, hoe sal ek dit stel, ongemaklik lyk.

Uiteindelik speel ʼn Suid Afrikaanse span vanjaar teen die wêreldkampioen rugbyland se beste streekspanne en die Bulls moet die ys breek.

Wynie Strydom het eendag aan my verduidelik dat die Bulls span soos ʼn Alfa Romeo is; uitstekend gebou, wonderlike werksverrigting, pragtig om in aksie te aanskou, maar temperamenteel.

En dit is hulle inderdaad sovêr.

Die Bulls, Cheetahs en Stormers speel vanjaar teen die Nieu Seelanders, maar dit lyk of die Bulls nie die spinnerakke van die eerste drie wedstryde in vanjaar se SupeRrugby-reeks kan afskud nie.

Dit is in teenstelling met die voorseisoen toe die Bulls goed gelyk het teen die Chiefs in Brisbane, weliswaar nie ʼn volsterkte Chiefs span nie, maar tog ook nie die span wat verlede week nooit uit vierde rat kon kom teen die Sunwolves nie, en dit op Fort Loftus.

Die Bulls kon nog nie die nederlaag teen die Stormers en daarna die Cheetahs verwerk nie en speel van wedstryd na wedstryd, fout op fout.

ʼn Sleutelspeler soos Handré Pollard sukkel om sy vorm terug te kry, maar hy moet dit doen in ʼn span wat eweneens sukkel om weer hul potensiaal te bereik.

Die Bulls mis hul tradisionele intensiteit, kragspel, tempo en akkuraatheid. Dit lyk nie asof hulle die dag op die veld geniet nie.

Nou ontstaan die teorieë en vrae; Pollard probeer sy persoonlike vorm herwin, maar jy wonder, het die kapteinskap nie te swaar op hom gedruk nie?

Adriaan Strauss is Saterdag op volsterkte terug en ondersteuners hoop op ʼn wonderwerk. Die duur Lood de Jager sukkel om te domineer in die lynstane en Trevor Nyakane speel uit posisie, wat op sy beurt die verwoestende, tradisionele Bulls skrum na ʼn groepsdrukkie laat lyk.

Die Blues wat verlede week die veld aan die brand gespeel het teen die Crusaders, vir een helfte van die wedstryd, wag op die Bulls. Hulle sal weer soos teen die Crusaders, met alle mag uitkom, en ʼn mens wonder of die Bulls gereed is vir die intensiteit.

Eweneens is die Blues met die rug teen die muur-een wen en drie verlore, met die drie verloor wedstryde na mekaar- nes die Bulls.

As die Bulls verdedig teen die Blues soos hulle teen die Sunwolves op Loftus gedoen het, wag daar moeilikheid en ‘n groot loesing op hulle.

Die geskiedenis is ook nie aan die Bulls se kant nie; die Blues het 10 van hul 11 tuiswedstryde teen die Bulls gewen.
Die Bulls, met Victor Matfield en ander ysters in hul geledere, kon die Blues laas in 2013 tuis wen.

Daarbenewens lyk die res van die Bulls se verwagtings maar yl; die wen teen die Blues in 2013 was die laaste in die afgelope 10 wedstryde teen Nieu Seelandse spanne, en volgende wag die Chiefs.

ʼn Mens voel jammer vir die trotse unie wat sedert die Frans Ludeke era, wat deur Heyneke Meyer voorafgegaan is, nooit weer kon domineer op SupeRrugby vlak nie.

Kan sleutelspelers soos of Augustine Pulu, George Moala en Rieko Ioane in toom gehou word? Kan die Bulls se pak voorspelers van meets af aan die stryd teen die Blues s’n domineer?

Kan Pollard wys dat hy die spel kan domineer en reguleer van die middelveld af en sal Tiaan Schoeman hom met die akkuraatheid van die skopvoet weer in die skande steek?

Saterdag-oggend 08:35 word hierdie en ander vrae beantwoord, hopelik met goeie gevolg.

Simon Riekert #paletoe

Related Posts

« »