ONS KAN BAIE SLIMMER, BETER RUGBY SPEEL #PaleToe

Apr 8 • General News, Pale Toe, Super Rugby • 1841 Views • Comments Off on ONS KAN BAIE SLIMMER, BETER RUGBY SPEEL #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #paletoe het vandeesweek gaan kers opsteek by een van rugby se bestes.

“Dis geen verassing dat ons so swak doen met ons internasionale pogings nie, of dit nou SupeRugby of toetse is, ons bly aanhoudend dieselfde foute maak…ons te voorspelbaar…ons het nie meer die tegniek om te wen nie, en daarvoor het jy onvoorspelbaarheid nodig- Naas Botha.”

Kom wat wil, jy hou van hom of nie. Naas Botha het óf aanhangers óf haters, maar een ding is seker- die man ken sy rugby.

Ek wou vandeesweek, na een derde van die SupeRugby kompetisie verby is, by hom weet oor die standaard van ons spanne se spel hier kort voor die Springbok afrigter aangekondig word.

“Die spanne wil iets anders tafel toe bring, verdedig goed, maar ons speel nog nie volledige rugby nie en dis waar dit bly, ons dwing opponente om foute te maak en ons dwing ‘n wen af, maar ons speel nie volgens ons potensiaal nie.

“Ons het die talent om aanvallende rugby te speel en nie net goed te wees op verdediging nie.

“Ons kommentaar moet nie net wees oor die span se goeie verdediging nie en dit uitmaak as goeie spel nie, dis nie reg nie, dis nie aantreklike rugby nie, want daar sal nog steeds geskop word, dis nie net hardlooprugby nie, ons moet slimmer speel, slim hardloop en slimmer skop.”

Naas sê daar is hoeveel geleenthede vir spanne om punte aan te teken wat hulle nie doen nie. Hy vra of dit swak vaardighede is wat van skoolvlak af deurkom of speel ons te veel dominante rugby en speel ons nie wat ons op die veld sien nie?

Leer ons ‘speel die situasie, moenie terugval in die ou patrone nie’ of verval ons in ou gewoontes?

“Die Stormers se wen teen die Jagaures was goed, ‘n 13-8 wen maar ons het heel eerste verwys na die hoe goed die verdediging was. Die Sharks verloor teen die Crusaders maar ons vertel hulle het goed verdedig. Die Bulls wat die Sunwolves met net 3 punte kon klop, laat ons vra is ons werklik een van die toonaangewende spanne as ons só speel?”

Volgens Naas kom SupeRugby afrigters agter dat ons nie meer die hoeveelheid kwaliteit spelers het as wat ons gehad het nie. Ons raak al hoe meer beperk met ons innovasie op aanval met die spelers wat ons het.

“Vaardigheid en kwaliteit is wat ons in spelers soek, maar die jare se verval in spelpatroon het ons beroof van kwaliteit spelers se innoverende vaardighede.

“Spelers wat soos Schalk Burger, gereeld opduik op losskakel of senter, maak ons spelpatroon voorspelbaar en ondoeltreffend.

“’n Haker soos Adriaan Strauss word elke keer die bal gegee na ‘n vaste faset en hy word elke keer platgetrek, maar tog hou ons aan om ons koppe teen hierdie spreekwoordelike muur te stamp. Ons speel 80/20 rugby, 80 % verdediging en 20% aanval.”

Die Lions is die enigste span wat dit regkry om met vryheid ‘n 50/50 aanval en verdedigings patroon te vestig. Hy verwys na die wedstryd van die Sharks teen die Crusaders; “die Sharks verdedig amper 80 minute lank maar verloor nog die wedstryd.

“Dis die manier waarop ons afrigters dink wat ons spelers aan bande lê en dit vir oorsese spanne maklik maak om hier te kom wen.

“Ons spelers wil nog bo-oor iemand hardloop in plaas daarvan om jou liggaam so te posisioneer dat ons reguit lyne hardloop, spasies op aanval skep en drieë druk.

“Dit word ‘n grap, plan A is Schalk op losskakel en plan B Schalk op binnesenter en ek wil hier vir die spelers opkom want hulle word aangesê om so te speel.

“Kyk hoe dra die Nieu Seelandse spelers die bal op aanval, soms met beide hande om die verdediger aan die raai te hou van sy volgende stap…ons sit om onder die arm en wil die man uit die pad hardloop.

Die Nieu Seelandse spanne sal vasgedruk word 5 meter van die kantlyn af, maar daar is vier manne in daardie spasie om die lyn reguit te maak, meen Naas.

“Voorspelers wil die show hê, en of hulle dit wil weet of nie, ‘n voorspeler se werk is om die donkiewerk te doen; skrum, dryf en skoonmaak.

“Wat is gevaarliker as ‘n voorspeler wat op volle vaart ‘n bal aangegee word terwyl hy in posisie inhardloop? Jy gaan nêrens kom as jy die bal kry as jy stilstaan nie en ons vergeet dat die goue lyn van hantering 2-3-8-9-10 en 15 is. As jy daardie struktuur in jou spel inbou, weet jy jou spelers sal die voordeellyn met mag en krag op ‘n effektiewe wyse kan aanval en oorsteek.

Naas meen dat ons al hoe meer neig na Rugby League spel, “dryf vyf of ses keer en as dit nie werk nie, dan skop ons die bal soms reguit in ‘n heelagter of losskakel se keelgat af.

“’n Goeie uitgee klop enig tyd die beste verdediger. Dit help nie om vyf tree van die doellyn die hele tyd die opposisie te probeer om skrum nie. Goeie aangee op die regte tyd sal ‘n speler in spasie sit om oor die doellyn te stap en te druk.

“Hoekom kan die Crusaders die bal deur 15 fases vat en sukses hê met die oorsteek van die voordeellyn? Ons dink dis ‘n verleentheid as ons te lank speel, kom ons skop eerder die bal weg. Ons bou op10 tot 12 fases maar ons beweeg nie vorentoe nie.

“Ek hoop dat die nuwe Springbok afrigter die wysheid het om Johan Ackermann en Swys de Bruin in te sluit in sy afrigters korps.

“Die nuwe afrigter moet weet dat die Springbok span aan ons, die mense behoort en dat ons veragtings het wat die Springbok weer in ere sal herstel.”

Foto: Anton Geyser / Rugby 15

Related Posts

« »