Regent Boland Cavaliers vs Leopards

Jul 12 • General News • 2200 Views • Comments Off on Regent Boland Cavaliers vs Leopards

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die Regent Boland Kavaliers is nog lank nie in sak-en-as nie, na twee nederlae op ‘n streep – teen die OP Kings en die Ford Pumas – in die eerste twee rondtes van die ABSA Curriebeker Eersteliga-kompetisie.

Dit is die mening van Boland Rugby se Direkteur van afrigting, Eugene Eloff, wat glo dat sy span met ‘n veel-sterker aanslag vorendag sal kom, wanneer die Kavaliers eerskomende Vrydag kragte meet teen die Luiperds op die Wesbank Sportgronde te Malmesbury.

Die feit dat Boland sy Curriebeker-aanslag moet afskop teen drie van die top-gekeurde spanne in die kompetisie, en dit sonder agt spelers wat in verlede jaar se finaal gespeel het, sou altyd ‘n reuse uitdaging wees. Gelukkig vir Boland-ondersteuners is Eloff se glas half-vol as dit by dié kwessie kom, aangesien hy van mening is dat die huidige groep al die bestandele het van ‘n kampioenspan. Volgens Eloff kon die nuwe spelers nie vir beter voorbereiding gevra het nie, aangesien hulle sodoende by die diep kant ingegooi word.

“Geen span wil sy seisoen met twee nederlae afskop nie, maar die ervaring wat ons nuwe spelers die laaste twee weke opgedoen het, kan nie gekoop word nie. Dit gaan deurslaggewend wees soos die kompetisie vorder. Boonop het ons goed gevaar teen die Oostelike Provinsie, twee weke gelede, ‘n wedstryd wat ons eintlik kon gewen het,” meen Eloff.

“Die oomblik was miksien te groot vir sommige spelers teen die Pumas. Die Pumas is buitendien ‘n span wat verlede jaar nog teenstanders soos die WP, Blou Bulle en Haaie harde bene laat kou het in die Curriebeker Premierliga. Die Luiperds, wat ook verlede jaar in die Premierliga  gespeel het, gaan dus nie ‘n makliker teenstander wees nie, maar in dieselfde asem is die Kavaliers nie verniet die huidige Eerstelige kampioen nie.”

Buiten die agt spelers (waarvan 4 voorspelers is) wat nie meer vanjaar in Boland-kleure te sien is nie, het die beseringspook ook sy tol geeis teen die OP Kings en die Pumas, met senior spelers  Clemen Lewis (haker),  Zandré Jordaan (agtsteman) en die nuweling Johannes Kitshoff (agtsteman), al drie op die krukkerlys. Eloff is egter positief dat die diepte in vanjaar se groep ‘n groot rol gaan speel in sy span se sukses.

“Rugby is ‘n fisieke sport en beserings sal altyd ‘n faktor wees, maar ons het vanjaar lekker diepte in amper elke posisie. Om twee agtstemanne soos Zandré en Johannes te verloor sal as ‘n reuse terugslag wees vir enige span, maar om nou te kan terugval op ‘n ervare speler soos Junior Bester, wys dat ons in dié posisie nie te veel skietgoed verloor nie. Met Cleme se besering het weer die deur oopgemaak vir een van ons klubspelers, Hennis van Zyl, wat reeds ‘n geruime tyd aan die deur klop.

“Ons sit met ‘n goeie groep spelers, maar ons is ook realisties en besef dat dit ‘n wedstryd of drie gaan verg om selfvertroue en momentum op te bou. Wat die gees in die kamp aanbetref, kon ek egter nie vir beter gevra het nie.

“Ons besef dat ons vertonings gemeet word aan verlede jaar se sukses, maar as huidige kampioene sou ons dit nie anders wou hê nie. Opponente moet besef dat ons nie maklik ons titel gaan prysgee nie en sodra die spelers beging ‘jel’ gaan ons nie maklik gestuit word nie.

Die Wedstryd tussen die Regent Boland Kavaliers en die Luiperds skop eerskomende Vrydag (13 Julie 2012) af om 16:00 op die Wesbank Sportgronde te Malmesbury.

Toegang beloop R20 vir volwassenes en R5 vir kinders/skoliere.

Die Regent Boland Kavaliers se span bestaan uit:

  1. Francois hanekom
  2. Ashton Constant
  3. Rosoouw Kruger
  4. Payi Longilo
  5. Noland Clark
  6.  Franzil September (o/k)
  7. PJ van Zyl
  8. Junior Bester
  9. Bolla Conradie (k)
  10. Elgar Watts
  11. Senan van der Merwe
  12. Braam Gerber
  13. Cornal Hendricks
  14. Brendon April
  15. Jacquin Jansen
  16. Hennis van Zyl
  17. Ollie Terblanche
  18.  Milroy Isaacs
  19.  Thor Halvorsen
  20.   Neil Papier
  21.  Ricardo Croy
  22. Jonathan Francke

Related Posts

« »