ROM-ROM, DIE BOKBREIER KOM! #PaleToe

Mar 18 • General News • 1614 Views • Comments Off on ROM-ROM, DIE BOKBREIER KOM! #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert- Pale Toe!

“SARU sal baie vinnig die volgende Supersport kontrak onderhandel, maar as dit kom by die aanstelling van die nuwe Springbokafrigter, rek hulle die proses só uit dat dit alle voorbereiding vir die nuwe seisoen negatief raak.”- Peter de Villiers

SARU het vandeesweek hul stilte oor die Bokbreier gebreek. Nie dat dit aardskuddings gaan veroorsaak nie, inteendeel daar’s niks nuuts nie.

So verskoon asseblief my gebrek aan opgewondenheid.

“Ons hoop om die identiteit van die nuwe Springbokafrigter aan te kondig na afloop van die Algemene Jaarvergadering wat volgende maand plaasvind”, sê hulle.

Oregan Hoskins het bevestig dat ʼn “voorkeur kandidaat geïdentifiseer is en dat die Algemene Raad die aanbeveling sal oorweeg.”

Volgens Hoskins is die kandidaat verkies uit ʼn lys van potensiële kandidate deur die Hoëprestasie komitee.

“Die komitee moes na voorafbepaalde kriteria kyk en die kandidate daarvolgens meet.

“In breë trekke het ons gesoek na ʼn persoon met ʼn bewese suksesrekord op elite vlak; iemand wie die objektiewe van die Strategiese Transformasieplan sou aanvaar en iemand wat verstaan wat die openbare eise van die pos behels.

“Die Uitvoerende Komitee het die Hoëprestasie komitee se aanbevelings ʼn ruk gelede al aanvaar en die voorkeurkandidaat se naam sal nou aan die Algemene Raad voorgehou word.”

Blykbaar sal die voorkeurkandidaat nie die Algemene Raadsvergadering bywoon nie aangesien sy aanstelling afhang van hul besluit.

Hierdie vergadering vind plaas op 1 April in Kaapstad.

SARU het waarlik die kuns vervolmaak om van ʼn professionele aanstelling, ʼn spioenasiedrama te maak.

Wie ook al die geheime kameraad is, hy sal allermins die pad wou loop wat Peter de Villiers geloop het.

In sy boek “Politically Incorrect” vertel hy van die dag van sy aanstelling: “ Hier is wat Oregan Hoskins op 9 Januarie 2008 gesê het, die dag van my aanstelling: ‘Ek wil eerlik met Suid Afrika wees en sê dat die aanstelling wat ons gemaak het, nie net vir rugby redes was nie. Ons het die saak van transformasie in rugby baie, baie ernstig opgeneem toe ons die aanstelling gemaak het.”

Rewind na 2008: klink dit bekend? Dieselfde man wat vir de Villiers laat verstaan het hy is SARU se antwoord op nie-rassige rugby, verklaar nou in 2016 dat die kandidaat, (of dalk ‘kameraad’) gevind is.

Moenie vir een oomblik glo dat die SARU-agenda verander het nie, want hier is die kriteria en dieselfde storielyn:

  • Sukses op elite vlak, wat beteken hy was al daar in ʼn ander gewaad: die Bokke se hulpafrigter, verdedigingsafrigter óf voor-óf agterspelersafrigter. Kortom, hy is nie naïef nie, hy weet van die poisoned chalice.
  • Iemand wat die objektiewe van SARU se Strategiese Transformasieplan (STP) sal aanvaar, kan net beteken die vorige een, (lees Heyneke Meyer), het volgens SARU, dit nie gedoen nie. Hierdie plan is in Februarie 2015 aan die publiek voorgehou. Kortliks, volgens Hoskins beteken die plan dat rugby ʼn leidende sportsoort in die SA sportfederasie moet wees wat sy hoogtepunt in 2019 se Wêreldbeker-toernooi in Japan moet hê. Hoskins het in 2015 gesê dat dit nie gaan om die hoeveelheid swart spelers op die veld nie, “want dit het ses fokus areas: demografie, toegang tot die spel, vaardigheidsontwikkeling, prestasie, gemeenskapsontwikkeling en sosiale verantwoordbaarheid en korporatiewe bestuur.”

Jurie Roux, HUB van SARU het daarna vure doodgeslaan: “dis nie ʼn kwota stelsel nie, dis ʼn padkaart…om ons sport nie te marginaliseer nie.”

Dit moet opkomende talent ontgin, en dan hierdie juweel, letterlik ʼn stuk déjà vu: “we understand that and we also understand that is also unfair to put that pressure on the Springbok coach without offering him any assistance – his teams can only reflect what is going on at the elite end of the domestic game.”

Was dit nie een van Heyneke Meyer se grootste klagtes voordat hy die sinkende skip verlaat het nie?

  • Dit moet iemand wees wat weet wat die openbare eise van die Bokafrigter behels, vat my terug na Peter de Villiers se boek.

“SARU sal baie vinnig die volgende Supersport kontrak onderhandel, maar as dit kom by die aanstelling van die nuwe Springbokafrigter, rek hulle die proses só uit dat dit alle voorbereiding vir die nuwe seisoen negatief raak.

“Die unies dink nie veel van SARU nie, hulle moet self sien kom klaar en dan skep hulle hul eie werksbasis, hulle word sterker as SARU en hulle sien SARU soms as ʼn sesde franchise!”

Miskien sê hy als met dit: “ in ons rugby maak ons nie voorsiening vir die volgende generasie nie-ons leef vir die oomblik…SARU moet al die kennis daarbuite saamvoeg, anders sal die vier jaar wat ʼn afrigter spandeer vir altyd verlore wees…daar moet ander strukture wees om hul kennis te bewaar.”

So, glo ons die geheime man is Allister?

As dit hy is, speel hy wel saam, want kort na die bekendmaking dat SARU wel eendag ʼn afrigter gaan benoem, reageer Allister dat hy nie genader is nie.

 

As dit weereens van Peter de Villiers afhang, is dit ook nie Allister nie.

 

“ Volgens die hoofmanne van SARU was ek die afrigter van die toekoms, ek sou die Bokke vir baie jare afrig, mits ek met die regte mense meng. As ek dit nie doen nie, het ek myself gefire”, sê hy in sy boek.

 

De Villiers sê SARU wou van Gary Gold en Dick Muir ontslae raak en hy moes die vuilwerk doen. Só stuur hulle hom om na ander afrigters te gaan soek, en die eerste naam wat opval is die van Allister Coetzee, toenmalige afrigter van die Stormers/WP en assistent Springbokafrigter in 2000 onder Harry Viljoen.

 

“Coetzee was beskikbaar, maak nie saak wat die koerante toe geskryf het nie. Hy het nooit ‘nee’ gesê nie, maak nie saak wat is geskryf nie.

 

“SARU het vir my gesê hy is die volgende Bokafrigter, en ek het gedink dat dit goed is om hom nou reeds betrokke te kry in die span, en ek het dit vir hom gesê.

 

“Toe Allister, nadat Hoskins van Ierland af terug is nadat hy met Gert Smal gaan praat het, aan die koerante gesê het ek en hy het inderdaad gepraat, was die hel los.

 

“ Hoskins het aan my gesê: ‘hoe kan ons hierdie man vertrou? Hy sal nooit in Suid Afrika rugby werk doen solank ek betrokke is nie.’

 

“Ek het later aan daardie woorde gedink toe die nuwe afrigter in 2012 aangestel is, en dit nie hy was nie.”

 

Liewe rugbyvriend, gaan lees de Villiers se boek. Gaan Google feite indien jy nog twyfel. Dink daaraan dat Hoskins se verklaring sê dat die kandidaat nie die Algemene vergadering van 1 April 2016 sal bywoon nie, “aangesien sy aanstelling afhang van hul besluit.”

 

SARU, onder leiding van Oregan Hoskins, skep nie net speurverhale nie-hulle is die riller.

 

Kry ons op 1 April 2016 dan weer ʼn April-fool Springbok afrigter?

Related Posts

« »