RUGBY IS EINTLIK ‘n EENVOUDIGE SPEL #PaleToe

May 6 • General News, International, Pale Toe, Super Rugby • 3168 Views • Comments Off on RUGBY IS EINTLIK ‘n EENVOUDIGE SPEL #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Dwarslat is vandeesweek seker ons maak rugby kyk te moeilik en hoor dat ons te emosioneel is.

#Pale toe

Om rugby te kyk is soos om die weer te voorspel, nes jy dink dat jy die edele spel verstaan, verander dit. Dis die wyse woorde van ‘n kollega, nou die dag nadat ons gaan dooierus vat het by ‘n watergat. Na dese glo ek dit heeltemal. Ons het so pas van ‘n soberheid na laas naweek se SuperRugby-bomskok herstel, of die volgende babelas loer weer agter die pale.

Die uwe het pas verneem van die Blou span se opportunistiese verloor doer onder, nogal teen die Brumbies. Dis dieselfde Brumbies wat onse Jake White in 2012-13 afgerig het en van nêrens na êrens gebring het in twee jaar. Ons hoop maar dis die een verloor tussen die drie gespeel waarvan Nollis gepraat het.

“Rugby is eintlik ‘n eenvoudige spel”, se neef Gerhard vir my.

“30 mans hardloop vir 80 minute op en af op ‘n veld en teen die einde, wen die Nieu Seelanders.”

Ek wou hom nog antwoord, maar toe bedink ek myself want volgens sy ingeligte bron loop ons die gevaar om alle wedstryde teen die Nieu Seelanders hier plaaslik, te verloor.

Dit het nog nooit gebeur sedert 1996 toe die Super 12-reeks begin het nie, maar met vier wenne uit ‘n moontlike agt wedstryde teen Suid Afrikaanse spanne, lyk dit donker. Dit is al in die Kiwis se sakkie: Kings 24 Chiefs 58 (12 Maart), Sharks 14 Crusaders 19 (26 Maart), Lions 37 Crusaders 43 (1 April), Lions 17 Hurricanes 50 (30 April).

Die Kings se wedstryd Saterdag teen die Blues in Port Elizabeth en dan die wedstryd teen die Highlanders op 2 Julie, voorspel niks goeds vir ons tuis rekord nie.

“Ons sal die wedstryde maar elders moet gaan kyk,” sê die slimme neef van my, “want as die Cheetahs, Sharks en Kings verloor, sal dit petrol op die Sportministertjie se kaggelvuur wees.”

Sy hoof-onder indoena Gert Oosthuizen het hoeka hierdie week die transformasie-veldbrand wat Sportministertjie twee weke gelede gemaak het, probeer doodslaan.

“Ons moet mekaar maar terpentyn gee waar dit hoort, maar ek is seker hier teen November maand sal ons ‘n heel ander prentjie sien as tans…ons wil nie die federasies benadeel nie en ook nie die land en sy mense en die sportmense nie…ons wil nie emosioneel raak nie,“ het Oosthuizen aan Rugby365 se Jan de Koning gesê.

Vroulief reken dis net ‘n gepaai, want die Sportministertjie sou al teen hierdie tyd ‘n oproep gehad het van die land se bier koning wat die Springbokke borg.

“Loftus is ‘n droë stadion, maar ek kan my nie voorstel hoe jy en jou makkers al kwylend na die Bokke teen die All Blacks in Oktober in Durban gaan kyk nie. Koeldrank is mos vir julle ‘n mix.

Ek stry nie, want die einste Sharks speel Saterdag om 15:00, net mooi in die tyd wat sy vir my geskeduleer het om die groen monster wat in ons swembad bly, te verdryf.

Ek sê nog altyd dat ‘n swembad soos ‘n kind in die huis is, maar nie hardop nie, want ek wil graag die SuperRugby-reeks enduit kyk.

Oor vyf weke van nou af is die Iere hier en blykbaar het hulle besef dat die oud-Bul CJ Stander se waarde nie in goud gemeet kan word nie. Hy het die Ierse Rugbyspelers se speler van die jaar toekenning gewen, nadat hy die titel voor manne soos die kookwater Ierse haker, Rory Best weggeraap het.

“Dis Frans Ludeke se skuld”, sê my buurman.

“Pierre Spies was mos sy blue eyed boykie, en toe die manne met die tjekboeke in 2012 regstaan, is Stander weg. Groot verlies, want hy kon Toetie se antwoord op agsteman gewees het en die Bokke gelei het. Dis nou wat mens noem Irish luck.”

Die uwe dink ons eie spanne hier by die ondermaanse kan self doen met ‘n bietjie Irish luck, veral nou dat ons weet Nieu Seelandse spelers word nie oud nie, hulle her-sirkuleer net.

Intussen rus die Lions en die Stormers hierdie naweek. Geen gebrul of stormwind dus nie, net ‘n koue front.

Groete vanuit die hoof pawiljoen.

Dwarslat.

Related Posts

« »