Rugby skiet homself elke keer in die voet – En dis Raak!

Jul 25 • General News, National, Pale Toe • 1822 Views • Comments Off on Rugby skiet homself elke keer in die voet – En dis Raak!

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #Pale toe skryf:

Dis tog opmerklik dat daar, veral hier aan die besigheidskant van die Superrugby-toernooi, ʼn duidelike rif by rugbykykers ontstaan. Dié wie se spanne dit na die uitspeelrondtes gemaak het en dié wie uitmis-miskien alweer. Dan is daar die wat sekerlik die kern vorm van al wat ʼn TV of radio-inbelprogram is; die sogenaamde leunstoelkenners.

As jy die naweek na die kwarteindstryde van Vodacom se Superrugby-reeks gekyk het, doen jouself die guns en gaan kyk op Facebook en Twitter na die kommentaar.

Nie dat ek gedink het jy wat hier lees het dit nog nie gedoen nie, maar ek vra maar. Net ingeval.

Ek hou as reël ʼn paar Facebook-rugby bladsye dop en in die algemeen gesproke, is die bydraes daar konstruktief. Ja, daar is ʼn paar “trolle” wat altyddeur skoor soek en niks sê nie, maar daar is ʼn paar goeie ouens ook. Ek praat nie van die bladsye waar daar goeiemôre en goeienag foto’s met hul span se logo’s op van vanoggend tot vanaand gepos word nie. Ook nie van die bladsye waar halfnaakte mans en meisies die span se klere óf aan, óf uittrek nie. Nee, ek lees die bladsye waar oud-spelers twiet of pos en waar daar oor die spel geredeneer word.

Dis tog opmerklik dat daar, veral hier aan die besigheidskant van die Superrugby-toernooi, ʼn duidelike rif by rugbykykers ontstaan. Dié wie se spanne dit na die uitspeelrondtes gemaak het en dié wie uitmis-miskien alweer. Dan is daar die wat sekerlik die kern vorm van al wat ʼn TV of radio-inbelprogram is; die sogenaamde leunstoelkenners.

Almal wat lief is vir rugby, het ʼn opinie.

Wat my egter die laaste ruk opval, veral voor en na die naweek se kwarteindstryde, is die gesindheid. Ek stem saam dat daar ʼn gesonde gekskeer moet wees tussen die ondersteuners, maar die afgelope naweek was daar geen plaaslike derbies nie. Dit was ons teen die res van die rugbywêreld, altans die suidelike deel daarvan.

Facebook en Twitter het gegons oor die kanse van die Stormers, Sharks en veral die Lions. Die leunstoelkenners het opinies gehad oor hoe swak Ackermann en sy span beplan het deur laas naweek ʼn verswakte Lions span na die Jaguares te stuur, en te verloor. Dit het gegons oor hoe die sewemalige wenners van die Supertoernooi, die Crusaders, die Lions op hul tuisveld gaan verslaan. Geharde Stormers ondersteuners het hul tuisspan ʼn groot wenkans teen die Chiefs gegee en die Sharks se ondersteuners was hoopvol teen die Hurricanes.

Ons weet vandag wat die uitslae was; die Sharks het hul kanse hopeloos weggegooi en 41-0 verloor, die Stormers was teruggeskok aarde toe met ʼn 21-60 loesing, maar die Lions het almal verras met ʼn 42-25 oorwinning oor ʼn Nieu Seelandse wen-span.

Gister en vandag is die hoofstroom media vol “ingeligte opinies” oor die skoknederlae en skok-wen.

Facebook en Twitter gons nog steeds. Oor Saterdag se verloorders en wenners, en alweer oor die kanse van die Lions in die halfeindstryd.

Die Nieu Seelanders was nog altyd en sal altyd ʼn wêreld rugbykrag bly en ons was tradisioneel die land wat hul in toom kon hou. Maar ons het hierdie selfopgelegde opdrag gekanselleer met ons houding oor rugby-eintlik oor alle nasionale sport.

Ons sidder as ons dink ons moet ʼn nasionale kontrakteringstelsel hê, want spelers wat na die vierde jaar by hul franchises is, gaan soek oorsese groen weiding. Die Nieu Seelanders het geleer dat sentrale kontraktering werk. So beheer jy Superrugby spelers wat deur die groeifases kom om eendag vir die All Blacks te speel. So minimaliseer jy ook spelers se drif om in Europa of Japan te gaan speel, lank voordat hy sy plaaslike bruikbaarheid verloor het.

Die Lions was nooit bang om te eksperimenteer nie, nie eens toe hulle Superrugby-relegasie in die gesig gestaar het in 2006 nie en alhoewel hul minder suksesvol was in die jare (2006-2015 was hul meestal tweede laaste op die finale punteleer), het hul ommekeer gekom na die vertrek van die oud-All Black speler en afrigter, John Mitchell. Johan Ackermann was sy luitenant.

Onder Ackermann se leiding het die span gegroei vanaf ʼn verloorspan, na ʼn Superrugby-kongreswenner in 5 jaar. In dié tyd het hy genoeg geleer by Mitchell hoe om af te rig soos die Kiwi’s dit doen, om te verdedig teen hul oormagtige speelpatroon en om drieë teen hulle te druk.

Facebook het Saterdag-aand en Sondag gebol van inskrywings oor hoe swak die Sharks en Stormers vertoon het. Toe dit die dag saak maak, is ons 1-3 slegter af aan Nieu Seelandse spanne.

Alhoewel die trolle tot in die na-nag besig was op Facebook, bring dié tipe gesprekke ons nie ʼn aks nader aan ʼn nasionale oplossing nie. Daar is pogings om ons speelstyl te verander en afrigters wat dit probeer implementeer, moet ondersteun word.

SARU moet oop kaarte met afrigters en die rugby publiek speel en die nasionale afrigter moet nie, soos voor die Ierse toer, amper terloops by die franchises opdaag om te verneem hoe dit daar gaan met sy Springbokke nie.

Alvorens SARU en die franchise afrigters nie daarin slaag om die spelers en die publiek byeen te bring agter ʼn nasionale plan en hoop nie, sal die moddergooiery op Facebook en Twitter voortgaan.

Hoeveel getroue rugbykykers weet wat in die opkomende Curriebeker toernooi aangaan byvoorbeeld. Wie moet die publiek inlig? Die afrigters? Die unies? SARU?

Trolle sal nog steeds gal braak oor die Lions se kanse om die eindstryd te haal, al glo en doen die spelers en hul afrigter dit is regtig haalbaar.

Ons skiet ons self elke keer in die voet, en ons korrel raak.

 

 

 

 

Related Posts

« »