SARU SE GEHEIME VERGADERING MET ALLISTER COETZEE

Oct 14 • General News, International, Springboks • 1367 Views • Comments Off on SARU SE GEHEIME VERGADERING MET ALLISTER COETZEE

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Is daar nog plek vir eerlike, openhartige praat in SA Rugby, vra Simon  Riekert van #paletoe?

As daar is, wil ek graag praat. As daar nie is nie, wil ek in elk geval ook praat, want êrens moet die rugby-wegholtrein gestop word.

Saru het óf belang verloor by die proses, óf weet nie hoe om die proses te bestuur nie, en hiermee oordryf ek glad nie.

Die vertrek van Oregan Hoskins, 10 jaar nadat daar hart en mond beloof is dat rugby op alle vlakke geïntegreer en getransformeer sal word, kon nie gouer kom nie.

Saru is volgens hul eie konstitusie verbind daartoe om “alle rugby te bevorder, bemark en te ondersteun”. Ons weet dit het nie gebeur nie, want ons nasionale span se vertoning die afgelope twee seisoene illustreer die agteruitgang en die agterstand by skole en klubs gaan jare vat om in te haal, indien ooit..

Rekords word vir al die verkeerde redes deur die Springbokke opgestel teen Japan, Ierland, Argentinië en die All Blacks.

Telkemale hoor jy dieselfde refrein: ons bou, daar is goeie tekens en ons kort net ʼn paar wenne, maar die momentum om te oortuig en te wen is net nie daar nie.

Dis algemeen kennis dat die Bokke baie gelukkig was om teen die Australiërs te wen, op Loftus Versveld. Ja, die veld het besondere betekenis vir die Bokke teen die Wallabies, maar om geen drie in daardie en die wedstryd teen die All Blacks verlede Saterdag aan te teken nie, is ʼn kenmerk van die Bokke se insinking op alle vlakke van die spel. Allister Coetzee se redding teen die Wallabies was grootliks die insluiting van Morné Steyn op losskakel. Nie alleen het hy al die wedstryd se punte, en dié teen die All Blacks aangeteken nie, maar sy teenwoordigheid in ʼn identiteitlose agterlyn het die Springbokke van verdere vernedering gered.

Coetzee het by sy aankondiging as Bokafrigter aan die media gesê dat hy vir afrigters indaba gevra het, ʼn stelling wat hy weer herhaal het na afloop van die Wallabie Toets.

Nou, eerskomende Woensdag en Donderdag sal hy sy sin kry, nadat Saru aangekondig het dat die indaba dan sal plaasvind.

Pogings vanuit die media kamp om detail oor hierdie kamp te kry is so skaars soos hoendertande.

Geen provinsiale afrigter met wie Pale Toe! gepraat het, het geweet wat op die agenda vir die twee dae is nie. Oud spelers en kommentators het ook nie geweet wie almal genooi is nie. Wat ons wel weet is dat afrigters soos Nick Mallet, Heyneke Meyer en Andre Markgraaf nie daar sal wees nie.

Werner Swanepoel, oud Bokskrumskakel en Supersport kommentator kon ook nie help nie; “ek weet nie wat die agenda is nie en ek weet ook nie wie genooi is nie.

“Al wat ons weet is dat daar groot fout in ons nasionale rugby is en dit lyk asof ons as leke hier op die grond al die planne het en die manne daar bo, dink nie soos ons nie.

Werner meen dat Allister nou agterkom dat hy uitverkoop is deur Saru.

“Ons weet almal dat sy hulpafrigters vir hom aangestel is en dat hy nou agterkom dat daar groot leemtes is wat hierdie manne nie kan vul nie.

“Ons wil graag weet by Saru, wat is jul planne?”

Die rugbypubliek weet dat as daar ʼn plan is waarby ingekoop is, geduld makliker kom. Soos Werner ook sê “ons as oud spelers weet jy kan nie al die wedstryde wen nie, maar ons kan ook sien as daar nie ʼn plan is om ons uit hierdie penarie uit te kry nie.”

“Allister is soos Peter de Villiers, nie die beste afrigter nie maar hy kan met mense werk, Peet Kleynhans afrigter van die voormalige Cats  is so ʼn mens.”

Hy sê ook dat jy die beste afrigters het om te wen en te bly wen in die moderne era, iets wat die Springbokke nie het nie.

“Allister het ook gesê dat as daar beter spelers is vir die Bokspan, hulle uitgewys moet word. Dit is nie vir my die issue nie, die spelers is goed genoeg, dit is die spankeuses en kombinasies wat nie die beste in elke speler uitbring nie.

“Hy speel vir Juan de Jongh eers op binnesenter en hy is eintlik ʼn buitesenter, wat word van Lionel Mapoe toe Jessie Kriel seerkry?”

Allister is besig met krisisbestuur en hy kies ʼn wedstrydwenner soos Morné Steyn om eerder net te wen as om spelers deel te maak van ʼn plan op pad na die Wêreldbeker in 2019.

Curwin Bosch, Francois Venter, Ruan Janse van Rensburg, Jannes Kirsten is almal manne wat in die groot Springbok plan ingesluit moet word, dit is die manne wat ons  Wêreldbeker toe kan vat met ʼn kans op sukses. Maar hulle is nêrens nie.

Werner meen dat van die oud-spelers ingeroep moet word, selfs van die oud-kapteins om ʼn bydrae te maak om Springbokrugby te red.

“Kyk na die All Blacks en Wallabies, Tana Umaga en Steven Larkham is in die sisteem en hul kennis is onontbeerlik vir hul nasionale spanne se vooruitgang.

“Ons het vir de Allende en de Jongh probeer en hulle kom nie die mas op nie, waarom word iemand soos Bosch nie ingesluit in ʼn groot groep van 40 spelers wat ons oor drie jaar ʼn kan gee op die wêreldtitel nie?”

Dit is duidelik: Allister Coetzee se hande is agter sy rug vasgebind en in die proses laat hulle hom en Suid Afrika in die steek.

Saru het ʼn gulde kans gehad om, te midde van hierdie krisis in ons rugby, oop kaarte met die publiek te speel oor hul planne vorentoe.

Hulle het dit nie gedoen nie en in die proses net die verdagmakery wat begin het met die proses van die aanstelling van Coetzee as Springbokafrigter, bevestig.

Hoe lank dit gaan duur voordat ons rock-bottom slaan, is ʼn ope vraag, maar dat dit op pad is, is seker as ons so aangaan.

Related Posts

« »