SPRINGBOKKE: IS RASSIE SE TWAK NAT?

Jun 7 • Europe, General News, National, Pale Toe, Springbok News, Springboks • 4252 Views • Comments Off on SPRINGBOKKE: IS RASSIE SE TWAK NAT?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
Die Springbokke van Pieter-Steph du Toit wat teen Wallis in Washington DC gespeel het. Foto: Verskaf

Die Springbokke van Pieter-Steph du Toit wat teen Wallis in Washington DC gespeel het. Foto: Verskaf

 

 

 

 

 

 

 

-Simon Riekert (Johannesburg)

Die derde jaar in ʼn ry kondig ʼn nuwe hoofafrigter van die Springbokke sy nuwe span aan met ʼn nuwe kaptein.

Die derde jaar agtereenvolgens skuif die manne met die tjekboeke die meubels rond op die Titanic se dek.

Dit is die storie van Springbokrugby, dames en here. Welkom by Springbokrugby 3.0

Verlede naweek se duur eksperiment met die Springbokke is verby. Die eksperiment was vir Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Springbokke, ʼn onderstreping van die realiteit van die stand van die nasionale span se spel en diepte. En daardie realiteit is swak, tewens dis weereens terug na die tekenbord toe.

Hy het 13 nuwe Springbokke teen Wallis ingespan, na twee oefensessies, terwyl die “A-span” besig was om reg te maak vir die Engelse in Johannesburg, eerskomende Saterdag.

Die Wallis-wedstryd was niks anders as ʼn pynlike herinnering aan die era van die midweek-Toetse, waar die spelers wat amper goed genoeg is vir die gereelde Toetsspan, speelkans gekry het, of die wedstryd  ʼn geleentheid gebied het vir ʼn rehabiliterende A-klas speler op pad terug.
Daardie era is verby, danksy ʼn oorvol rugbykalender.

Benewens die ekstra geld wat SARU uit die Washingtonse wedstryd gemaak het, het ʼn wedstryd soos die een eintlik maar net getoon hoeveel spelers is net nog nie goed genoeg om die gereelde Toetsspan te haal nie. Ten minste is dit iets positief uit die naweek se getjommel. Ons geklop deur ‘n derderangse Walliese span.

Die Walliesers wat gespeel het, was net so onervare en ver verwyderd af van die span wat in die vyfde plek op die wêreldranglys ingeskuif het.

Suid-Afrika lê tans sewende, die laagste posisie ooit in die geskiedenis van Springbokrugby.

Eina.

Vir Pieter-Steph du Toit se Springbokke was dit ʼn groot aanpassing en emosionele druk wat verwerk moes word. Rassie sou sekerlik ook hierna gekyk het die afgelope week.
Maar wie is die uitskieters?

Steven Kitshoff was eenvoudig net strate beter as enige ander stut op die veld. Ox Nche is ook nog nie Toetsmateriaal nie en so ook Robert du Preez op losskakel. Daar was twee baie belangrike skoppe van die losskakel wat suksesvol deur die opponente afgestorm is, die laaste een wat gelei het tot die wendrie vir Wallis.

Oupa Mohoje het die kluts kwytgeraak by die afbreekpunte en het die strafskoptelling teen die Springbokke aan die gang gehou. Kwagga Smit was besig, soos gewoonlik, maar hy en Jason Jenkins het gewys dat die Toetsspan nog ver in die verskiet vir hulle lê.

Wilco Louw was lui met ‘n swak werkrekord en Ivan van Zyl sal moet leer dat sy strategiese skopwerk nie moet maak dat die besit doelloos weggeskop word nie.

Elton Jantjies en Jesse Kriel was eweneens nie goed genoeg nie en so ook Curwin Bosch en Warrick Gelant. Laasgenoemde se instinktiewe spel maak soms dat hy balbesit weggee, veral in sy tuisgebied en dis fataal in enige Toets.

Ander spelers wat wel later in Erasmus se Bokspan kan opduik is Andre Esterhuizen op binnesenter, en Marvin Orie op slot. Embrose Papier se lewendige spel het ook my oog gevang, maar hy sal blootstelling op die topvlak moet kry om sy vermoë te ontwikkel.

Soos een joernalis dit na Saterdag opgesom het, wat ons wel wys geword het uit die Walliese Toets is dat Suid Afrika se huidige Toets spelerspoel nader aan 25 as aan 42 is.

En dis ʼn harde feit, wat die Bokafrigter weereens terugneem, soos sy voorgangers, tekenbord toe.

***Intussen het Erasmus Donderdag sy span vir die eerste Toets op Ellispark aangekondig.

Die span is:
1 Tendai Mtawarira, 2 Bongi Mbonambi, 3 Trevor Nyakane/Wilco Louw, 4 RG Snyman, 5 Franco Mostert, 6 Siya Kolisi (k), 7 Jean-Luc du Preez, 8 Duane Vermeulen, 9 Faf de Klerk, 10 Handre Pollard, 11 Aphiwe Dyantyi, 12 Damian de Allende, 13 Lukhanyo Am, 14 Sibusiso Nkosi, 15 Willie le Roux

Die plaasvervangersbank is:
16 Akker van der Merwe, 17 Steven Kitshoff, 18 Thomas du Toit, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Sikumbuzo Notshe, 21 Ivan van Zyl, 22 Elton Jantjies, 23 Warrick Gelant

Related Posts

« »