SPRINGBOKKE TEEN ENGELAND: DIE KENNERS PRAAT

Nov 2 • Europe, General News, International, National, Pale Toe, South Africa, South Africa, Springbok Hall of Fame, Springbok News, Springboks • 3403 Views • Comments Off on SPRINGBOKKE TEEN ENGELAND: DIE KENNERS PRAAT

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Kan die Springbokke weer maak soos hulle in Wellington, Nieu Seeland gemaak het en die Engelse op Twickenham klop? Foto: SARU/RugbyFifteen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Simon Riekert- Centurion

Daar is altyd vir ʼn joernalis ʼn beter opsie om oor rugby te praat, veral as jy Springbokrugby praat: kry die kenners bymekaar.

Die Springbokke is in Europa en spring hierdie naweek weg met ʼn Toets teen die ou aartsvyand, Engeland. Daarna wag die Franse, Skotte en Walliesers.

Hennie Koortzen, aanbieder van die program Rugbyradio op PretoriaFM het Donderdag-aand vir Gary Botha en Krynauw Otto as gaste op sy program gehad. Hy en mede-aanbieder Wynie Strydom het die Springbokke se kanse, veral Saterdag s’n deeglik bespreek by die pragtige Leriba Lodge Hotel in Centurion, waar gasheer Peet Du Preez en sy span reggestaan het (en tot redding van hierdie joernalis gekom het!)

Wat veral opvallend vir die paneel was, was Rassie Erasmus, Springbokafrigter se keuses met die lostrio en dan ʼn baie onervare agterlyn die veld in te stoot.
Die feit dat die amptelike internasionale Toetsvenster reeds gesluit is, beteken die Bokke moet speel sonder dienste van Faf de Klerk, Francois Louw and Franco Mostert, algar in Engeland gebaseer.

Die Engelse daarenteen, speel sonder 17 van hulle staatmakers, en die beseringslys lyk soos ʼn na-Boereoorlogse-slagveld: Courtney Lawes (rug ), Nathan Hughes (skorsing)
Chris Robshaw (knie), Sam Simmonds (ACL), Joe Launchbury (knie), Mako Vunipola (kuit), Nick Isiekwe (enkel), Billy Vunipola (arm), Joe Marler (uitgetree), Ellis Genge (knie), Beno Obano (knie), Matt Mullan (knie), Jack Willis (knie), Dan Robson (enkel), Jonathan Joseph (enkel), Anthony Watson (achilles), Marland Yarde (knie).

Dit is dus te betwyfel of die Bokafrigter vir Damian Willemse en Ivan van Zyl sou laat begin het voor ʼn verwagte skare van 80 000, indien Le Roux en De Klerk beskikbaar was.
Net so, het die paneel gevoel, sou Rassie dalk nie ʼn posisionele verandering met die vuurvreter Pieter-Steph Du Toit gemaak het nie, sou Lood de Jager wedstrydfiks wees en Franco Mostert vir die Bokke kon uitdraf nie.

“Dit is die belangrikste wedstryd van die toer”, het Krynauw Otto, voormalige Springbokslot gesê.
“Rassie sou wou eksperimenteer met die oog op 2019 se Wêreldbeker en ʼn man soos Duane Vermeulen wat die nommer sewe-trui aantrek, het sy rugby by die Pumas in daai posisie begin.”

Otto meen dat die kombinasie tussen Du Toit en sy slotmaat van die WP, Eben Etzebeth sal deurslaggewend wees in die vaste fasette.

“Ja,” beaam Gary Botha, voormalige Springbok haker en tegniese voorspeler-konsultant by die Bulle, “die skrums en lynstane gaan die deurslag gee, dit gaan dus krities noodsaaklik wees dat die baldraers soos Vermeulen en Malcolm Marx akkuraat moet wees. Die duikslae en afbreekpunte gaan bepalend wees.”

“Die Springbokke sal die Engelse die hele tyd onder druk moet hou,” het Wynie Strydom laat hoor. Strydom, wie self vir die Blou Bulle op skrumskakel uitgedraf het en 17 jaar die spanbestuurder van die span was, reken dat Ivan van Zyl en Embrose Papier deeglik getoets sal word met die steekskoppies van Ben Youngs en die hoë balle van Owen Franks.

Die paneel was dit eens dat die agterlyn met min ervaring sit en dat daar ʼn reuse taak op Handre Pollard se skouers sal rus om die wedstryd te dikteer. Dan is daar die “Mitchell-faktor”; nadat John Mitchell, voormalige Bulls afrigter, vroeër vertrek het en hom by Eddie Jones se afrigtingspan aangesluit het, sal daar ʼn paar geheime wees wat hy met Jones sou wou deel, veral oor die vermoëns van die Pretorianers in die span.

Pollard en Blou Bul spanmaat Jesse Kriel en Damian de Allende is die mees gesoute spelers as dit by die huidige Springbokke se noordelike halfrond se toer ervaring kom.

“Dan maak Van Zyl, Apiwe Dyanti, S’bu Nkosi en Willemse hul nooiensvaart na die noorde en die spesifieke uitdagings wat die Engelse toestande bied,” het Hennie Koortzen bygevoeg.

Krynauw Otto reken dat die Bokke vroeg-vroeg opvang-rugby sal moet speel, “ek dink hulle gaan vir die Bokke kom, en as die span in staat is om die druk in aanval te omskep, het hulle ʼn kans.”

Almal was dit egter eens dat die Springbokke die 2-1 sege teen die Engelse hier, vroeër vanjaar, kan versterk met nog ʼn oorwinning.

“As die Bokke die All Blacks in Nieu Seeland kon wen, kan hulle dit seker teen die Engelse in Londen doen?”, het Otto afgesluit.

Die spanne is soos volg:

England – 15 Elliot Daly, 14 Jack Nowell, 13 Henry Slade, 12 Ben Te’o, 11 Jonny May, 10 Owen Farrell (kaptein), 9 Ben Youngs, 8 Mark Wilson, 7 Tom Curry, 6 Brad Shields, 5 George Kruis, 4 Maro Itoje, 3 Kyle Sinckler, 2 Dylan Hartley (mede-kaptein), 1 Alec Hepburn.
Plaasvervangersbank: 16 Jamie George, 17 Ben Moon, 18 Harry Williams, 19 Charlie Ewels, 20 Zach Mercer, 21 Danny Care, 22 George Ford, 23 Manu Tuilagi.

Springbokke – 15 Damian Willemse, 14 S’bu Nkosi, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Ivan van Zyl, 8 Warren Whiteley, 7 Duane Vermeulen, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff.
Plaasvervangersbank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Thomas du Toit, 18 Wilco Louw, 19 RG Snyman, 20 Lood de Jager, 21 Embrose Papier, 22 Elton Jantjies, 23 André Esterhuizen.

Die skeidsregter is die Australiër Angus Gardner en sy assistente is Jérôme Garcès (Frankryk) en Ben Whitehouse (Wallis) met Olly Hodges in die TV-skeidsreterstoel.

Afskoptyd is 17:00

Hierdie is die Springbokke se toerplan in November:

03 November 2018
17:00
Engeland vs. Suid Afrika
Twickenham, Londen

10 November 2018
22:05
Frankryk vs. Suid Afrika
Stade de France, Parys

17 November 2018
19:20
Skotland vs. Suid Afrika
Murrayfield, Edinburgh

24 November 2018
19:20
Wallis vs. Suid Afrika
Principality Stadion, Cardiff

Related Posts

« »