SUPERRUGBY: NIE GOED GENOEG NIE, SUID AFRIKA!

Mar 19 • General News, Pale Toe, South Africa, Super Rugby, Super Rugby Fixtures, Super Rugby Logs, Super Rugby News, Super Rugby Results • 1930 Views • Comments Off on SUPERRUGBY: NIE GOED GENOEG NIE, SUID AFRIKA!

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
MALCOLM MARX DRUK IN DIE DOODSNIKKE VAN DIE WEDSTRYD TEEN DIE SUNWOLVES FOTO: FRANS LOMBARD

MALCOLM MARX DRUK IN DIE DOODSNIKKE VAN DIE WEDSTRYD TEEN DIE SUNWOLVES FOTO: FRANS LOMBARD

Die afgelope naweek se SuperRugby punte oes was maar skraal vir die Suid Afrikaanse spanne.

Die Bulls het vroeg Vrydagoggend (SA-tyd) ʼn wenkans teen die voormalige toernooi wenners, die Chiefs weggegooi nadat hulle met 28-14 voorgeloop het teen rustyd, net om die brieke heeltemal te verloor en in die proses geen punte in die tweede helfte aan te teken nie. Die Bulls verloor 41-28, maar tog is hul afrigter John Mitchell tevrede met die ontwikkeling van die spel. Die middelveld met Handre Pollard, Jesse Kriel en Burger Odendaal daar, word ʼn gedugte aanvalswapen en met Warrick Gelant en Divan Rossouw wat die mengsel dikker aanmaak, kan ons uitsien na ʼn span wat ʼn algehele identiteitsverandering ondergaan.

Voorlangs het Trevor Nyakane gewoel. Hy lê tans statisties 5de wat omgekeerde laagvatte aan betref in vanjaar se toernooi.
Die Bulls raak ook al hoe beter om balbesit te behou in verdediging, maar Mitchell se kopseer, die opskietverdediging kos die Bulls punte op kritieke tye.
Wat fiksheid en kondisionering aan betref, is die span besig om aan Mitchell se vereistes te voldoen. Dit word weerspieël in die min ernstige beserings wat die span het na vier rondtes harde rugby.
Vandeesweek wag die Crusaders op hulle in Christchurch om 08:35 SA-tyd.

Saterdag-oggend was die Sharks aan die ontvangkant van die Brumbies se pak slae nadat hulle 24-17 (rustyd 10-3) verloor het teen ʼn uitgedunde kampioenspan van 2001 en 2004.
Die Sharks het Saterdag nooit gelyk na die span wat aan die begin van die toernooi geoormerk was as moontlike uitspeel finaliste nie en dit blyk nou dat, tensy daar ʼn groot ommekeer kom, hul 2018-aanslag op die titel maar bra flouerig gaan wees.
Thomas du Toit en Curwin Bosch het elk ʼn drie aangeteken, maar die span kon nie kapitaliseer op twee geleenthede waar die Brumbies met 14 man gespeel het nie.
Die res van die punte vir die Sharks het van die skopvoet van die losskakel Robert du Preez gekom.
Die Brumbies het ook twee drieë aangeteken, een elk deur die vleuels Lausii Taliauli en Henry Speight en hul losskakel Wharenui Hawera het die res van hul punte met die skoen aangeteken.
Vandeesweek wag die Australiese log leiers, die Melbourne Rebels op hulle (Vrydag 23 Maart 10:45 SA tyd).

Later Saterdag middag was dit die Stormers wat ʼn bietjie hoop op die Suid Afrikaners se braaivleisvure gegooi het met ʼn goeie oorwinning (37-20) oor die Blues. Rustyd was dit 24-3 in die tuisspan se guns.
Die einste Blues, wat voorverlede naweek met die Lions op Emirates Airline Park afgereken het, was egter futloos in die Kaap van storms.
Ook maar goed so, want Robbie Fleck se span het sy ondersteuners ʼn groot terugkeer geskuld na ʼn wenlose toer deur Australasië.
Binne die eerste 90 sekondes het die Stormers die eerste van hul vier drieë gedruk danksy die vlugvoetigheid van hul senter EW Viljoen.
Daarna het hy nog ʼn keer agter die pale gaan kuier terwyl Raymond Rhule en Dewaldt Duvenage ook gaan druk het. Damian Willemse het die res met die skopvoet gedoen.
Die Blues se punte is deur Ioane, Collins en die ander Ioane, Rieko aangeteken agter die pale en Stephen Perofeta het pale toe geslaag met die res ban die punte.
Die Stormers is nou tweede op die SA-punteleer, gelyk met die Sharks en speel eerskomende Saterdag teen die Reds op Nuweland.

Toeskouers op Emirates Airline Park het amper weer Saterdag-kouekoors gekry na die naelskraapse oorwinning 40-38, van die Lions oor die Sunwolves. Rustyd was dit reeds 19-17 in die guns van die tuisspan se geploeter.
Kort na rustyd was daar ʼn oplewing, maar geleidelik het die Lions die Sunwolves geleentheid gegee om amper die oorhand te kry, soveel so in die 59ste minuut.
Dit was egter die Springbok-haker, Malcolm Marx wat die Lions se vet uit die vuur geruk het met ʼn drie, opgevolg deur Rohan Janse van Rensburg wat deur drie laagvatte gebreek het vir vyf punte.
Atsushi Sakate het amper die appelkar omgekeer met ʼn drie in die doodsnikke, maar ʼn mens het die indruk gekry dat die Lions byna desperaat was in die doodsnikke om ʼn hartseer einde, soos teen die Blues, te verhoed.
Die Lions het 6 drieë aangeteken en Elton Jantjies het met 5 doelskoppe geslaag terwyl die Sunwolves met 5 drieë, vyf doelskoppe en een strafskop geslaag het.
Intussen is Ross Cronjé se ribbes beseer, Jacobie Adriaanse het ʼn verstuite enkel en Andries Ferreira se lae rug sukkel en sal agterbly.
Die span vertrek Woensdag na Argentinië en die toerspan sal Dinsdag aangekondig word.

-Simon Riekert (#paletoe @Nader_pale_toe op Twitter)

Related Posts

« »