Vyf redes waarom wat op Loftus gebeur baie belangrik is!!

Sep 30 • Analysis, Pale Toe, Springboks • 1467 Views • Comments Off on Vyf redes waarom wat op Loftus gebeur baie belangrik is!!

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #paletoe het hierdie redes gekry en gelys:

Saterdag, op Loftus Versveld meet die beleërde Springbokspan van 2016 kragte met die Wallabies in een van die laaste wedstryde van die huidige Castle Rugbykompetisie.

Dit sal die 83e keer wees wat die twee rugbylande teen mekaar kompeteer.

Vroeër is daar aangekondig dat Allister Coetzee en sy provinsiale kollegas na die Curriebeker-reeks bymekaar kom vir ʼn “indaba”. Die vergadering sal grootliks voorraad opneem oor die Bokke se huidige vertoning en swakplekke blootlê.

Hier is vyf redes waarom ons meen dit is krities noodsaaklik:

Die Springbokke is op ʼn slegte plek in Wêreldrugby

Coetzee, indien hierdie laaste twee wedstryde teen die Wallabies en Nieu Seeland verloor word, sal soos Carel du Plessis wat in 1997 Bokafrigter was, die swakste wenrekord hou; 37%.

Coetzee erken dat die Bokke “glad nie goed speel op die oomblik nie”.

“Ons speel goeie rugby met tye, maar ons begaan te veel ongedwonge foute, ons kom nie uit ons gebied met balbesit nie en ek skryf dit toe aan manne wat nie goeie vorm het nie.

“Ons het probleme met verdediging en die wedstryd statistiek teen die All Blacks en die Wallabies lyk nie goed nie, spelers maak foute en dan is dit asof die ander spelers om hulle verbouereerd raak.

Wynie Strydom, voormalige Bloubul, Bulls en Springbok spanbestuurder meen dat die nuwe generasie spelers wat na afloop van die Wêreldbeker-toernooi van 2015 tyd nodig het om hul Springbok-voete te vind.

“Allister het sy vertroue in ʼn groep spelers gestel en al waar hy kan weet of hulle dit gaan maak of nie, is op Toetsvlakke.

“Superrugby het nie juis gewys of die ouens op vorm is nie en dit moet ʼn groot bron van kommer vir Coetzee wees.”

Daarenteen was Coetzee by gister se spanaankondiging vies oor die opmerking dat veral sy agterlyn, die span in die steek laat.

“Dis die beste agterlyn wat beskikbaar is”, het hy gekap. Coetzee was net so sensitief oor die vroeë opmerking oor spelers wat foute maak en dan in die volgende fase verbouereerd raak: “Morne Steyn het die ure op sy kerfstok en hy organiseer goed, dis soos ʼn ou dokter wat baie ure agter die blad het, jy vertrou hom.”

In teenstelling met Coetzee se dreigende verloor rekord, hou die afrigtingspan vol dat dit goed gaan by die Bokke; “daar is ervaring, maar daar is ook passie, as daar nie passie was nie, sou ek jou nie gekies het nie.”

 

Tap die groot rugby-breintrust wat beskikbaar is

Steve Hansen, suksesvolle All Black afrigter en vriend van Heyneke Meyer meen dat Suid Afrika van die beste rugbybreine ter wêreld het.

“Nie alleen het julle vir Meyer nie, maar julle het manne soos Rassie Erasmus, Jake White, Johan Ackermann…die lys hou aan en daar is geen rede waarom hulle nie kan saamwerk nie…die enigste rede waaraan ek kan dink dit nie gebeur nie, is weens die politiek wat julle rugby beset”, het hy aan www.stuff.co.nz gesê.

Ackermann, Nollis Marais, John Dobson, Robbie Fleck  en Franco Smith is van die jong, opkomende afrigters wat die geleentheid aangegryp het om ʼn loopbaan in Suid Afrika te volg. In Mei het Coetzee die ses Superrugby afrigters gevra om in te koop in die indaba-idee. Nollis Marais (Bulls), Franco Smith (Cheetahs), Deon Davids (Kings), Johan Ackermann (Lions), Gary Gold (Sharks) Robbie Fleck (Stormers) het almal ingewillig.

Hierdie is die manne wie Coetzee moet pols oor idees en as manne soos Nick Mallet, Brendan Venter en Naas Botha ook aan boord kan kom, is daar hoop.

“Allister was nog altyd oop vir gesprekke met ons as unie-afrigters, ons praat met hom in September en ons wil hoor wat is sy planne vir die toekoms”, het Marais onlangs aan joernaliste gesê.

“Ek is nie besorgd oor die sogenaamde verval waarvan gepraat word oor Springbokrugby nie, ek dink ons het briljante spelers.”

“Daar is nie sprake van ʼn uitskud onder die Springbok geledere nie, daar is te veel wat op die veld gebeur wat bepaal of die wedstryd gewen of verloor word.

“Ons verwag dat wedstryde met 30-40 punte gewen moet word en ons kompetisie word al hoe sterker, Argentinië is die span wat hulle vyf jaar gelede was nie.

“Nuwe spelers moet aanpas by Allister se planne, en daar moet een of twee dinge op die veld gebeur, dan sal die resultate vanself spreek.”

SARU moet pa staan vir alle rugby

Coetzee het by meer as een geleentheid ʼn gefrustreerde boodskap aan die buitewêreld uitgedra dat hy graag strukture in plek wil hê om sy werk makliker te maak.

“In Nieu Seeland het die hoofafrigter ʼn hele span wat hom ondersteun, hy het ʼn assistent wat môre by hom kan oorneem as hy die leisels neerlê.

“Hier by ons is jou kontrak na vier jaar op ʼn einde en dit maak nie saak of jy spelers wat kan uitblink geïdentifiseer het nie, jy los hulle agter.

Coetzee se frustrasie spreek nie alleen nie, sedert voor die Jake White-era was daar oproepe uit die Bokkamp om die afrigtingspan te versterk en om kontinuïteit te behou.

Met Coetzee se aanstelling vroeër vanjaar was SARU se antwoorde oor ontwikkeling vaag en onsamehangend. Jurie Roux het hard probeer om Oregan Hoskins se verleentheid oor die geskiedenis van transformasie weg te praat.

Geen afrigter, wit of swart sal geloofwaardigheid en algemene aanvaarding by die rugbypubliek hê as ras-gebaseerde aangeleenthede nie aangespreek en opgelos word nie. Rugbymense verwag dit en SARU moet toesien dat dit gebeur. Oregan Hoskins was 10 jaar lank President van SARU en daar het bitter weinig gebeur wat transformasie aan betref, van skoolvlak af tot by die Springbokke. Inteendeel daar is nou nog groter polarisasie as ooit. Alvorens daar nie van politieke karakters soos Fikile Mbalula ontslae geraak word nie, sal SARU se geloofwaardigheid onder verdenking bly.

Coetzee het by gister se spanaankondiging weereens verwys na die sentralisering van spelers in Nieu Seeland. As die aspek nog nie op die afrigters indaba is nie, is dit nou tyd daarvoor. Coetzee het reeds teen die Iere te kenne gegee dat hy prioriteit gee aan spelers wat in Suid Afrika bly. Sy wens, voor die Loftus-Toets was dat die groep spelers “nog lank bymekaar sal bly.”

Die geluksgodin se rol skep selfvertroue

Hoeveel daar ookal beplan en gedoen word agter die skerms, die laaste sê word op die veld gedoen.

Wanneer laas het gesprekke rondom die moontlike telling gegaan oor ‘hoe naby kan ons verloor’, of ‘hoe klein kan ons die punteverskil hou’?

Bokondersteuners en spelers hou nie van verloor nie en Allister Coetzee het dit amper bepleit; “al wat ons nodig het is dat die spelers moet gel en dat een of twee beslissings in ons guns moet gaan…ons kort net een wen.”

Coetzee was tot nou toe nog baie bekommerd oor die besluitneming op die veld en met Adriaan Strauss se aankondiging dat hy aan die einde van vanjaar uittree, was die onsekerheid nog soveel groter.

“’n Kaptein soos Adriaan se waarde is heeltemal onderskat, hy mag dalk deur ʼn slegte fase van sy spel gegaan het, maar hy is deur en deur ʼn leier-hy is ons leier op die veld”, het Nollis Marais van die Blou Bulle gesê.

Coetzee beaam dit, “daar is leiers op die veld en een van die voordele van om Pat Lambie Saterdag op die veld te hê, is om nog ʼn leier in ons geledere te hê.

“Daar is jong spelers wat hul Toetsdebuut maak en nodig het om ge-mentor te word en ek het my leiers soos hy en Warren Whitely nodig.”

Tydens die indaba sal dit vir Coetzee loon om reeds sy kaarte op die tafel te plaas oor die opvolg kaptein vir Adriaan en terwyl hy besig is, sy tweede en derde beste spelers in posisies te identifiseer.

 

Die onervarendheid slaan nie net by spelers deur nie

Weereens ʼn punt op die indaba-agenda; praat oor die gebrek aan ervaring van afrigters.

Die feit dat Chean Roux en Mzwandile Stick sukkel om die internasionale mas op te kom, is uit en uit ʼn SARU blaps.

Dis tyd dat beheptheid met kwotas finaal aangespreek word en dat politieke Peter Pan’s soos Fikile Mbalula se invloed stop.

Daar is geen groter onreg om ʼn afrigter met potensiaal, vroeg ryp te druk nie. Nie alleen kleef die stigma van mislukking aan die Bokke se agterlynafrigter nie, maar Mzwandile Stick sal in internasionale rugbykringe onthou word as die afrigter wat uit sy diepte aangestel is. Weereens kla die gebrek aan ʼn werkbare transformasieplan die voormalige President in sy afwesigheid aan, maar alvorens SARU sake soos hierdie begin bestuur, is ons mislukking op die rugbyveld gewaarborg.

Saterdag-middag skuins na 5-uur draf die Springbokke op teen ʼn span wat self deur diep waters gaan. Die Australiërs het gekom om te wen en ten spyte van die geskiedenis wat in die guns van die Bokke op Loftus loop, die fanatiese Blou Bul skare wat hul goue seun, Morne Steyn in aksie sal sien en bespiegelings en statistiek oor die Springbokke se vertonings op die hoëveld, weet Allister Coetzee dat sy kanse uitloop.

Al sê hy dat hy “’n man van tweede kanse is.”

Related Posts

« »