AG MAN DIS LEKKER HIER OP LOFTUS… #PaleToe

May 27 • General News, Pale Toe • 1496 Views • Comments Off on AG MAN DIS LEKKER HIER OP LOFTUS… #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Skrywer: Dwarslat #PaleToe

Dagsê aan almal, insluitend vriend en vyand van Noord en Suid.

Die uwe, Dwarslat ag homself as ‘n gelukkige mens. Hy bly lekker, braai gereeld en het geleentheid om legendes van die rugby wêreld te sien groot word.

“Jou brood is albei kante gebotter,” sê my buurman vir my gister. “Jy het ‘n rugbyspan wat darem nog wen. My seun vra ek moet hom ‘n blok van die skool aflaai nadat Fort Loftus se deure vir my Stormertjies toegeklap het en my vrou is nog kwaad oor ons die huis se adres vergeet het nadat ons ‘n paar keer om die wêreld was by Trademarx se kuipe.” 

Ek voel jammer vir die man, want in ons huis heers liefde en vrede. Vroulief het nou nog nie gesê wat sy bedoel het met ‘jou beurt sal kom’ nie en my kinders het nog vriende wat wil oorslaap.

Ek is bekommerd oor mevrou Dwarslat se geheimenis, want haar span loop los voor in vanjaar se Supergedoente en Saterdag-aand was sy die ene liefde nadat ons die Bulls en Sharkies se oorwinnings gevier het. Soos ek gesê het, ek is stilweg bekommerd…, maar nie naastenby soos wat ek glo Toetie moet wees nie.

Ek sê vanoggend vir Jan Slaghuis dat ons oorsese Bokke seker lekker lag oor die getjommel hier tuis. Bakkies Botha het al vertel hoe lekker hulle daar in Frankryk gebly het en op ‘n kol begin wors maak het wat hulle aan die Aussies verkoop het. Dit terwyl die Hollander met sy nimmereindigende kredietkaart al wat jong potensiële Springbok hier wegrokkel, en Montpellier meer as twaalf Suid Afrikaanse spelers het.

Jan reken Toetie moet vasbyt en net plaaslike spelers kies vir die Iere se toer en vergeet van ‘n man soos Duane Vermeulen wat binnegevegte het met sy Europese klub.

“Ons raak al hoe erger, byna soos die sokkerspelers wat links en regs koop en verkoop word en te hel sê vir hul nasionale spanne. Mag dit ons behoede bly dat die Internasionale Rugbyraad te lamsakkig is om hierdie klubs te roskam en te stop.

“Een van die dae moet ons die manne begin gradeer, klas jy weet, soos ‘n mens met skape maak. 

“Dalk is dit nie ‘n slegte idee nie, dan klas ons die manne in Groen-en-Goud wat hier bly en hulle speel met ‘n spesiale Springbok, iets wat die Ministertjie sal bly maak. Iets soos ‘n Proteatjie in die Bok se bek wat wys hulle is ‘n rasegte Suid Afrikaans geteelde stoet.”

Neef Gerhard sê hy bly wakker vir Toetie se aankondiging Saterdag-aand, al kom dit met KykNET se nuus.

“Ek gaan maak soos die Ministertjie en fyn kyk hoe hy dié Bokspan se kies gaan regkry en as hy nog steeds vlek kry van die Ah-en-Seer kant, gaan ek maak soos Fiekie altyd doen en skree: ‘moer hulle’.

“Ek is by bly verby dat Akkers die SA-A span gaan afrig, want dan kan Toetie mos afkyk en wen, net soos my Leeutjies”, glimlag die slimme neef van my.

Saterdag gaan ek my hande vol hè, nie net van my familie nie, maar ook veral van mevrou Dwarslat en haar ‘jou-beurt-sal-kom’. Want wie ookal die stryd anderkant die Boereworsgordyn wen, het bragging rights.

Dwarslat waag met dié spulletjie as moontlike manne in Groen-en-Goud:

Willie le Roux, Cheslin Kolbe, JP Pietersen, Ruan Combrinck, Lwazi Mvovo, Jesse Kriel, Lionel Mapoe, Damian de Allende, Jan Serfontein, Patrick Lambie, Johan Goosen, Elton Jantjies (as hy reg is vir die Iere), Rudy Paige, Faf de Klerk, Ruan Pienaar, Duane Vermeulen, Warren Whiteley, Siya Kolisi, Jaco Kriel, Francois Louw, Pieter-Steph du Toit, Franco Mostert, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Frans Malherbe, Julian Redelinghuys, Scarra Ntubeni, Bongi Mbonambi, Adriaan Strauss, Beast Mtwarira, Trevor Nyakane.

Kaptein? Dis óf Adriaan Strauss óf Pat Lambie.

Of dalk verras Toetie ons heeltemal.

Groete uit Luilekkerland.

Dwarslat.

Foto: Willem Loock / @Nader_pale_toe

Related Posts

« »