ALL BLACKS MAAK REG VIR BOK-AANSLAG

Sep 15 • General News, International, New Zealand, Pale Toe, Springbok News, Springboks, The Rugby Championship • 4864 Views • Comments Off on ALL BLACKS MAAK REG VIR BOK-AANSLAG

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

(FOTO: RUGBYFIFTEEN.CO.ZA)

Simon Riekert- Pretoria

Die All Blacks, bo-aan die 2017-Rugbykampioenskap se punteleer, kruis swaarde met die Springbokke, Saterdag.
“The old foe”, soos John Mitchell gister na hulle verwys toe ons hom kon peper met ʼn paar vrae oor die sogenaamde “old foe.”
En o ja, hy praat ook van “ons”, asof hy nog nooit afstand gedoen het van die Silwer Varing se trots nie.
En dis goed, dit hoort so.
Maar wat kan die Springbokke verwag, môre?
Eerstens is die All Blacks die voorloper op die punteleer, soos ek reeds gesê het, maar dit het nie maklik gegaan nie. Vir die eerste keer in ʼn lang tyd, moet die Kiwi’s hard werk vir ʼn oorwinning.
Neem nou maar die eerste paar rondes as voorbeeld; ʼn droom begin teen die Wallabies in Sydney (40-6 teen rustyd), net om klippe te kou in die tweede helfte (54-33 eindtelling) teen ʼn klomp Aussies wat nie wou gaan lê nie.
Die volgende naweek was dit hittete of die wêreldkampioene het op hul neus gekyk. Australië was van plan om te wen as dit nie in die laaste doodsnikke vir Beauden Barrett se drie was nie (eindtelling 35-29).
Die Argentyne was verlede naweek soos ʼn Jack Russel en het die magtige All Blacks vir ʼn goeie 60 minute aan die nekvel rondgetrek (eindtelling 37-22 tuis).
Albany, waar die Toets plaasvind, kon netsowel ʼn voorstad van een van Suid Afrika se groot stede gewees het, so baie “ex-pats” bly daar.
Mitchell het aanvanklik nie geweet die Suid Afrikaners speel daar nie, “dis nie een van die beste plekke in die wêreld om te speel nie, om dit sagkens te stel.”
“Vir my is dit maar ʼn baie gemiddelde Rugby kampioenskap, ek dink spanne is in ʼn oorgangsfase twee jaar voor die IRB se rugby Wêreldbeker. Nie een span het die afgelope naweek my oog gevang nie en die Springbokke sal versigtig moet wees om te veel besit weg te skop. Dit mag deel wees van Brendan Venter se spelpatroon maar die All Blacks sal dobbel met kruis aanval-skoppe en hulle sal dit baie beter doen as wat Australië gedoen het.”
Hy reken dat die All Blacks ook tekens van kwetsbaarheid toon in sekere opsigte, maar die blote feit dat hulle teen die Springbokke speel, sal hul spelpeil lig.
“As die Bokke sleg skop as gevolg van druk, gaan hulle die All Blacks kans gee om met teen skoppe ʼn ander soort spel te speel,” meen Mitchell.
“As die Springbokke die All Blacks stadiger kan maak, soos die Britse en Ierse Leeus gewys het, skoon balbesit by die lynstane kry en die fisiese aspek van die spel kan oorheers, het hulle ʼn goeie kans om te wen.”
“Soos met jou voorgangers, wil jy nie die All Black trots verloor nie, en elkeen wat daardie trui aantrek, is gemotiveer om dit te doen,” sê Mitchell.
Volgens Mitchell is Elton Jantjies steeds onder druk in die Bokke se aanval en hopelik is daar meer skoppe uit die nommer 9-posisie om meer aanval geleentheid te skep, “anders sal die All Blacks hierdie doellose skoppe vir seker in aanval omsit.”
Manne soos Jesse Kriel, Andries Coetzee en Jan Serfontein soek altyd werk, en kan met die regte en tydige balbesit, drieë druk.
Op die verdediging bly iemand soos Raymond Rhule ʼn risiko en Rieko Ioane gaan hom besig hou. As Rhule nie sy verdediging opgeskerp het nie, gaan daardie kanaal vir hom en die Bokke ʼn probleem word.
Die terugkeer van Aaron Smith kan vir die Bokke kopsere inhou, veral met sy vinnige skoonmaak, haastige spelskep by die afbreekpunte en natuurlik sy akkuraatheid. Soos ʼn tipiese goeie skrumskakel, kort hy ʼn handbreedte om oor te gaan in ʼn losgemaal.

Dit lyk asof die Bokke goed doen onder die plaasvervanger-kaptein Eben Etzebeth en daar sal toenemende druk op hom wees Saterdag om sy spelpeil en kapteinskap op te pas.

Die onlangse geskiedenis:
2016: Nieu Zeeland wen 57-15 in Durban
2016: Nieu Zeeland wen 41-13 in Christchurch
2015: Nieu Zeeland wen 20-18 in London (Wêreldbeker halfeindstryd)
2015: Nieu Zeeland wen 27-20 in Johannesburg
2014: Suid Afrika wen 27-25 in Johannesburg
2014: Nieu Zeeland wen 14-10 in Wellington
2013: Nieu Zeeland wen 38-27 in Johannesburg
2013: Nieu Zeeland wen 29-15 in Auckland
2012: Nieu Zeeland wen 32-16 in Johannesburg
2012: Nieu Zeeland wen 21-11 in Dunedin
2011: Suid Afrika wen 18-5 in Port Elizabeth
2011: Nieu Zeeland wen 40-7 in Wellington

Die spanne:
Nieu Zeeland: 15 Damian McKenzie, 14 Nehe Milner-Skudder, 13 Ryan Crotty, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (k), 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Nepo Laulala, 2 Dane Coles, 1 Kane Hames
Plaasvervangers: 16 Codie Taylor, 17 Wyatt Crockett, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Lima Sopoaga, 23 Anton Lienert-Brown
Suid Afrika: 15 Andries Coetzee, 14 Raymond Rhule, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronje, 8 Uzair Cassiem, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Siya Kolisi, 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth(k), 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira
Plaasvervangers: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Lood de Jager, 20 Pieter-Steph du Toit, 21 Francois Hougaard, 22 Handré Pollard, 23 Damian de Allende
Stadion: QBE Stadium, Albany
Afskop: 09:35 plaaslike tyd (07:35 GMT)
Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis)
Assistent skeidsregters: Angus Gardner (Australië), Matthew Carley (Engeland)
TMO: George Ayoub (Australië)

*Daar was ‘n laat verandering met die insluiting van Francois Hougaard in die plek van Ross Cronje wat met ‘n maagaandoening sukkel. Rudy Paige is op die bank.

#paletoe 2017

Related Posts

« »