DIE SPRINGBOK SE DOODSKOOT? #PaleToe

Sep 4 • General News, International, Pale Toe, Springboks • 2180 Views • Comments Off on DIE SPRINGBOK SE DOODSKOOT? #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #Pale toe

“Prima facie is dit ʼn saak wat gaan oor transformasie en dit is ʼn sensitiewe onderwerp. Dit mag vir jou lyk na ʼn poeletjie met stil water op die oppervlakte maar onderlangs is daar water wat teen ʼn magtige tempo vloei, jy mag dalk visse kry wat byt en dan het jy ʼn duiker nodig”- Regter Ntendeya Mavundla

Ons land se konstitusie, word daar gesê, is een van die bestes in die wêreld. Dit maak voorsiening vir Jan en Alleman om hul demokratiese regte uit te oefen, af te dwing en te beskerm. Dit vestig regte maar terselfdertyd vra dit om verpligtinge na te kom.
Só het Tshidiso Mokhoanatse gedoen toe hy en sy politieke party, die Agency for a New Agenda Woensdag die Hooggeregshof in Pretoria genader het om die Springbokke te verhoed om aan vanjaar se Rugby Wêreldbeker deel te neem.
Mokhoanatse meen dat die “te wit” Springbokspan nie verteenwoordigend is van die land se bevolkingsamestelling nie en dat die howe moet ingryp, die transformasieproses uit die hande van die ANC moet neem en die pas van verandering in rugby voorskryf.
“SA Rugby is rassiste”, het hy voordat die hofsaak begin het, aan joernaliste gesê.
“Ons wil rassediskriminasie na die vullishouer toe stuur.”
Beide die regspanne van die minister van sport en van Saru was gereed om die dringende aansoek teen te staan, “dis ʼn saak van nasionale belang en dit kan nie uitgestel word nie”, is betoog.
Mokhoanatse se aansoek het uiteindelik in die stof gebyt, maar die harde realiteit van verdeeldheid, rassisme en onverdraagsaamheid in ons land was duidelik sigbaar. Langs my in hof 6B kom sit ʼn bekende Britse joernalis wie sy netwerk se Afrika korrespondent is. Ons raak aan die gesels oor die regsproses, sy werk as korrespondent en sport oor die algemeen. Soos ons praat, kom ek agter die man weet bitter min van ons rugby se dinamika af. “Is SA Rugby se bestuur rassisties?”, vra hy my. Ek antwoord hom nie want Regter Mavundla kom die hofsaal binne en ons buig eerbiedig vir mekaar. Hoe bedrieglik kan uiterlike aksies en woorde wees. Hoe naïef is ons oor ons verskille, ons persepsies van mekaar. Hoeveel verskuilde agendas loop op twee bene rond?
Dit was baie duidelik dat Regter Mavundla die applikant beskerm het teen die professionaliteit van die twee opponerende regspanne: “inheems gebore mense kom ook hof toe en Afrikane is bekend vir hul geduld, hulle moet die geleentheid gegee word om aangehoor te word.”
“Prima facie is dit ʼn saak wat gaan oor transformasie en dit is ʼn sensitiewe onderwerp. Dit mag vir jou lyk na ʼn poeletjie met stil water op die oppervlakte maar onderlangs is daar water wat teen ʼn magtige tempo vloei, jy mag dalk visse kry wat byt en dan het jy ʼn duiker nodig”, het die Regter aan Mokhoanatse gesê wat op eie stoom hof toe gekom het.
Mokhoanatse en sy party, die Agency for a New Agenda (ANA) het weliswaar die geveg by ronde een verloor, maar die oorlog gewen. Die doel van die saak gaan voortgesit word.
“Hierdie saak moet hof toe kom, want soos die Regter in sy uitspraak gesê het is dit onaanvaarbaar dat daar na 21 jaar se verloop geen sigbare transformasie in rugby is nie. Ons het geslaag daarin om die verantwoordelikheid oor transformasie uit die hande van die uitvoerende bestuur te neem, dit is in die gesag van die howe geplaas om te verseker dat transformasie sal plaasvind teen die pas wat die howe bepaal. Ons is baie bly tansformasie is nie meer oorgelaat aan die minister of die bestuur van SA Rugby nie, dit sal nou die breër gemeenskap insluit, niemand sal meer agter die uitvoerende bestuur kan skuil nie.”
Intussen word Springbok rugbytruie word in protesoptogte verbrand, internasionale joernaliste stel voor ons skrap die Springbok-embleem en Peter de Villiers skaar hom openlik by drukgroepe wat Heyneke Meyer veroordeel. Swart Springbokke begin praat, wittes is stil.
Die span staan met een voet op die vliegtuig, die geldmasjien wat wêreld rugby adverteer is besig om in rat te kom, patriotisme het laer getrek rondom die einste Bok-trui, ons verwag van die span om die Wêreldbeker te gaan wen, maar Rome smeul.
Regte en verpligtinge is nog nie aangespreek nie.
Saru en Fikile Mbalula is doodstil, want blykbaar volgens hulle het hierdie stormpie oorgewaai.

Related Posts

« »