EET ONS VAN DIE RUGBYVLOER AF?

Jun 21 • General News, Pale Toe, Springboks, Super Rugby, The Rugby Championship • 2326 Views • Comments Off on EET ONS VAN DIE RUGBYVLOER AF?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #PaleToe!

 

Die feit moet Springbokafrigter Heyneke Meyer erg bekommer, maar hy meen dat Superrugby nie die maatstaf is waarmee hy die Bokke se kanse in die Wêreldbeker meet nie.

 

Die rugbynasie se moraal lê baie laag na Saterdag se misoes tussen die Stormers en die Brumbies. Die Brumbies het gewys dat Jake White se afrigtersinvloed, nog steeds teenwoordig is. Die Australiërs het die Stormers op Nuweland met 39-19 oorskadu en daarmee alle hoop om sukses in die Supertoernooi van 2015 te hê, te groet.

Hierdie is een van die donkerste Superrugby-jare wat die land nog beleef het. Die naaste daaraan was in 2003 toe ons geen span in die semifinale gehad het nie en op die koop toe onder die kwas geskop is in die Wêreldbeker in Engeland. Suid Afrika is toe in die kwarteindrondte uitgeboender na een van die mees droewigste vertonings teen die All Blacks nog. In die wedstryd, wat die Springbokke met 9-29 verloor het, kon Rudolph Straeuli se Springbokke nie een drie aanteken nie.

Vanjaar se vertoning in die Supertoernooi was om die minste te sê, teleurstellend.

Die inploffing van twee van die grootste franchises met die meeste geld om te spandeer aan afrigting, die Sharks en die Bulls, was skokkend.

As dit nie vir die Lions en die Stormers was nie, was daar geen Suid Afrikaanse span in die top 10 van die Super Rugby toernooi nie. Verlede jaar het die Sharks die toon aangegee met 11 wenne, terwyl die Bulls, Stormers en die Lions slegs sewe kon wen.

Vanjaar kon die Stormers slegs 10 uit 16 wedstryde wen. Dit beteken dat geen plaaslike span vanjaar beter kon doen as die Sharks verlede jaar nie. Die naasbeste plaaslike span vanjaar, die Lions het met 9 wenne afgesluit terwyl die Sharks en Bulls slegs 7 wenne uit 16 kon behaal. Die groot verloorder vanjaar is die Bulls wat glad nie op hul vertoning van 2014 kon verbeter nie.

In vergeleke met die Aussies en Kiwi’s, staan ons só: die Waratahs het 11 uit 16 wenne en die Brumbies 9. Die Hurricanes van Nieu Seeland spog met 14 uit 16 wenne en hul naasbeste, die Highlanders het Saterdag die Chiefs verslaan om  11 uit 16 wenne aan te teken.

Kyk jy na die puntetotaal, loop die Hurricanes met 66 los voor, dan volg die Waratahs (52) en die Stormers met 45. Die Lions, Bulls en Sharks kon slegs onderskeidelik 42, 38 en 34 punte aanteken op die punteleer.

Die feit moet Springbokafrigter Heyneke Meyer erg bekommer, maar hy meen dat Superrugby nie die maatstaf is waarmee hy die Bokke se kanse in die Wêreldbekermeet nie.

“Superrugby is ʼn ander soort spel. Daar is ander emosionele keuses wat gemaak moet word op en van die veld af. Wedstrydpatrone speel homself ook anders uit. Taktiese skopwerk word een van die belangrikste aanvalwapens van die spel. Tot 70% van wedstryde word bepaal deur taktiese skopwerk”, sê Meyer.

Daarenteen beweeg die franchises al nader aan ʼn afrigterskrisis, met Frans Ludeke wat as Bulls afrigter uitgeskop is, Gary Gold wat niks noemenswaardige met die Sharks kon uitrig nie en Allister Coetzee wat die Kaapse franchise vir Japan verlaat.

Dit lig die manne soos Johan Ackermann uit wat met sy dapper Lions, sonder sterre met groot name en ego’s, bewys het dat suiwer “guts” soms goed genoeg is om ʼn punt te maak.

Eerskomende naweek speel die Hurricanes teen die Brumbies en die Waratahs teen die Highlanders om te bepaal wie speel in die finaal, twee weke later.

Vir droëbek Suid Afrikaners sal dit van akademiese belang wees wie vir wie uitskakel.

Wat egter belangriker is, is dat ons eie rugbyhuis nie in orde is nie en dat ons, soos gewoonlik met groot patriotisme sal opruk Engeland toe om die Wêreldbeker te gaan verower.

Die feit is egter dat ons internasionale teenstanders met rasse skrede verbeter het, hieren in die Noordelike halfrond. Een van die eerste groot toetse, sal die Bokke se vertoning in die Viernasies reeks wees.

Kan ons die toets slaag?

Foto: Werner Nysschen Photography

 

 

 

Related Posts

« »