KAN JY AFRIG OF NIE? #PaleToe

Jun 4 • General News, Pale Toe • 2477 Views • Comments Off on KAN JY AFRIG OF NIE? #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #Pale Toe!

Ons moet die heel beste afrigters hier kweek en hulle hier hou. Net soos goeie spelers, moet ons die goeie afrigters goed betaal en verantwoordelik hou vir hul keues.

Ek wil nie praat oor die wedstryd wat ons skool se eerste span teen Bergvlam Hoër verloor het nie: 52-0. Ook nie oor meneer Johan Potgieter se “spanpraatjie” Maandag na die droewige Saterdag nie, want om matriek seuns te sien huil, is nie ʼn mooi gesig nie.

Al wat ek van daardie dag af onthou is dat ek nooit ʼn rugbyspan wou afrig nie. Nooit nie.

Daar is sekere spelers wat gebore afrigters is. Sommige het die kruin van eersterangse rugby bereik, ander het op hoërskool, Varsity/kollege of op klub vlak hul plafon bereik. Die een groep sal gebore losskakels, hakers en senters wees, die ander natuurlikeleiers en kapteins. En dan kry jy die uitgelese minderheid wat na hul speeldae kan afrig.

Ander, soos Jake White verstaan rugby, al was hy nie naby aan ʼn provinsiale trui of wat nog te sê ʼn Boktrui nie.

Victor Matfield is só ʼn speler, want hy het al in soveel woorde aan Pale Toe! gesê dat sy kop Bokafrigter toe staan.

Naas Botha het dit nie. Sy afrigtersdae by Waterkloof hoër was van korte duur. Rol jy die tydskedule terug, duik Bokafrigetrs wie ʼn barshou kon speel, gereeld op: Danie Craven, Johan Claasen, John Williams, Nick Mallet, Rudolf Staeuli…en die lys gaan aan.

Miskien gaan ons eie rugby tans deur een van die grootste aanpassings ooit, wat spelers en afrigters aan betref. Miskien is dit ʼn suiweringsproses om die ware afrigters te louter- ʼn internasionale plaag, want afrigters krisisse is nie eie aan ons rugby nie.

Nie alleen verlaat ʼn horde plaaslike spelers weer hul tuisbodem nie, maar ʼn groep suksesvolle afrigters maak nou plek vir nuwe, jong bloed. Dis die verloop van moderne rugby en die geldgod is nie hier uitgesluit nie.

Naka Drotské en Allister Coetzee sal nie weer in hul provinsies afrig nie. Sommige, soos Gary Gold het by die Sharks gesien dat jy nie net kan inloop en oorneem nie.

Ander, soos Johan Ackermann beleef saam met sy spelers een van die beste seisoene in die geskiedenis van die Lions. Gepraat van Ackers, hy is ook ʼn voorbeeld van een van die top spelers wat die transito na afrigter uitstekend gedoen het.

Weg is die dae toe die skindertonge hom en oud- All Black John Mitchell, ook ʼn super speler/afrigter-hibried vanuit Ellispark wou uitverkoop. Ackers is nou weer Springbok materiaal..

Een afrigter wat net so goed in die skrums kon sak en tot dusvêr nog die beste SupeRugby-geskiedenis het, is Frans Ludeke.

Wynie Strydom vertel graag hoe suksesvol Frans was nadat hy by Heyneke oorgeneem het: twee Super-titels (in 2009 en 2010) en een Curriebeker titel in dieselfde suksesvolle Super-jaar, 2009. Frans rig die Bulls nog die langste af in die professionele era, agt jaar.

Dit is dus te verstane dat ondersteuners van die Bulls, nou na ʼn paar maer jare sy kop eis, want die illusie bestaan dat die Bulle nie mag verloor nie.

Pieter “Slaptjips” Rossouw, agterlyn afrigter van die Bulls, loop reeds aan die einde van die jaar.

Vandeesweek het Ludeke aan joernaliste gesê dat hy “oopkop” is oor sy pos.

“Die besluit is nie myne nie. Ek gaan nie my energie daarop mors nie. Ek het respek vir die mense wat my aangestel het. As hulle vertroue in my verloor het, kan ek niks daaraan doen nie.”

Dieselfde ondersteuners het in 2013 Pine Pienaar, wie die Curriebeker span afgerig het vanaf 2011, se kop gaan eis. Pienaar is deur Ludeke as Curriebeker-en SupeRugby afrigter vervang.

Maar Bulls ondersteuners se geheue is kort en vir vreemde volke en tale het hulle min tyd.

Daar was hul Engelsman, die eerste een wat die voorreg gehad het om die heilige grond in Kirknesstraat as afrigter te betree. Hierdie man het met die Bulle getoor en voortgegaan om die land se rugby weer sy regmatige plek in die internasionale arena te vestig. Sy naam was Kitch Kristie.

So het die Bulle sedert Kitch, agt ander afrigters gehad, waaronder Heyneke Meyer, wie twee keer afgedank was.

Rudy Joubert was die eerste afrigter wat die Northern Bulls, soos hulle in die begin van die SupeRugby-kompetisie bekend was, in ʼn weg-wen kon afrig. In 2003 was die eer hom beskore na ʼn wen in Napier teen die Hurricanes.

“24 verlore in die vreemde”, skryf Wynie in sy boek My Bloed is Blou.

Frans volg maar dieselfde paadjie as die ander voor hom. Maar met wie vervang jy hom? Sy kontrak verstryk eers aan die einde van 2016 en daar bly dus nog twee Curriebeker- en een en ʼn bietjie Super reekse vir hom en sy vyande oor.

Die Cheetahs het reeds daardie bruggie oorgesteek met die aanstelling van Franco Smith, toevallig ʼn oud-Bloubul nadat Os du Randt en Naka hul vervroegde bedankings ingedien het.

Die Stormers weet hulle gaan vir Allister Coetzee verloor, maar wie neem by hom oor? Eddie Jones se naam is al hardop genoem, maar geen finale besluit is geneem nie.Dieselfde lot het Coetzee byna getref toe fanatiese ondersteuners sy kop geëis het ’n jaar of twee gelede.

Gary Gold kry as hoofafrigter van die Sharks geen goeie ontvangs nie, veral omdat die Sharks, soos die Bulls die jaar se teleurstelling in SupeRugby is. Maar met sy ervaring en kennis kan hy die voormalige Super finaliste weer op koers kry en die trotse Curriebeker tradisie in Natal voortsit.

Manne soos John Mitchell en Nick Mallet pas in ʼn sekere vorm. Sou hulle weer wou afrig op hierdie vlak, sal nie een van die twee Blou klere dra nie. Dis duidelik dat hulle die rol van analis eerder verkies as om slapelose nagte te hê oor spankeuses.

Die vraag bly dus onbeantwoord, en of jy nou die Bulls verafgod of haat, hulle is en bly die land se enigste kampioenspan in die Super reeks. Soos sake tans staan sal hul vir nog ʼn jaar die enigste span wees wat ʼn Super trofee kon vashou.

Dit is net so belangrik as wat dit is om ʼn voerkanaal vir die Bokafrigter te skep, belangrik om kompeterend te bly in SupeRugby, Vodacom rugby en die trotse Curriebeker kompetisie, om nie eens te praat van die Viernasies toernooi nie. Ons rugby het die heel beste afrigters broodnodig.

Of Ludeke se naam op die Bloubul-raad se agenda is vir volgende week se vergadering, is ʼn ope vraag. As hy vroeg loop, hoop ons die ringkoppe het reeds iemand sterker in gedagte.

Net so is dit belangrik om te weet of Eddie Jones op pad is Kaap toe en of Mitchell en Mallet ooit weer ʼn franchise sal afrig.

Wat ons wel weet is dat afrigters van die dikste velle en beste bloeddrukpille moet hê. Ons moet die heel beste afrigters hier kweek en hulle hier hou. Net soos goeie spelers, moet ons die goeie afrigters goed betaal en verantwoordelik hou vir hul keues.

Doen dit asseblief ter wille van skoolseuns, klubspelers en die wat kan afrig sowel as dié wat dink hul kan.

 

 

 

Related Posts

« »