Kan Super Rugby ons red van Springbok-babelas?

Feb 20 • General News • 1511 Views • Comments Off on Kan Super Rugby ons red van Springbok-babelas?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Donderdag 23 Februarie 2017 is net ʼn paar dae vêr weg. Nog meer belangrik as hierdie feit, is dat dit die Superrugby-toernooi van 2017 inlei.

Om 10:45 skop die Rebels en Blues op AAMI-Park in Melbourne, Australië af en alhoewel dit die enigste toernooi ter wêreld is wat oor meervoudige tydsones gespeel word, maak die feit dat Australië en Nieu-Seeland Dagligbesparing volg en ons nie, dit nog moeiliker om afskoppe te volg.

Daar is vanjaar 17 rondomtalie-rondtes en die uitspeelwedstryde word aan die einde van Julie gespeel. Die eindstryd is op Saterdag 5 Augustus 2017.

Maar hoe lyk die Suid Afrikaanse spanne se kanse, realisties gesproke vanjaar?

Is die Lions ons span met die beste kans om weer die uitspeelrondtes te haal?

Verlede jaar het hulle vriend en vyand verras deur die Afrika 2 konferensie te wen en in die proses klaargespeel met twee voormalige kampioene, die Crusaders en die Highlanders. Die feit dat Johan Ackermann se span teen die uiteindelike kampioene van 2016 in Wellington moes gaan speel, was genoegsame bewys dat sy span ernstig opgeneem moet word om titelwenners te word in 2017. Dit het in ʼn jaar van uitermatige teleurstelling oor die Springbokke, rugbyliefhebbers laat glo dat daar wel lig in die donker Afrika-tonnel is.

Hulle speel vanjaar teen geen Nieu Seelandse spanne in die rondomtalie rondtes nie, en behoort voort te bou op hul goeie vorm van 2016. Doen hulle hierdie basiese dinge reg, kan hulle in ʼn tuisfinaal speel. Van die basiese dinge wat reggestel moet word, is die gewoonte om punte af te staan in hul poging om hul spel te rek.

Die grootse aanwins vir hulle is die aankoop van Marvin Orie, wat sy lynstaanwerk by die Bulls geleer het en voorlangs van groot waarde sal wees. Die vertrek van ʼn akkurate skopper soos Marnitz Boshoff sal die Lions se diepte toets.

Kan hulle sorg dat Suid Afrika weer ʼn Superrugby-titel kry na sewe maer jare?

Die enigste span wat sewe jaar gelede die Superrugby-trofee omhoog kon hou, is die Bulls. Hulle Curriebekerspan het self agt jaar gelede sukses geproe. Die Bulls het die afgelope paar jaar gesukkel en ʼn groot deel van hul kernspan verloor sedert hul die 2013 konferensie gewen het. Soos die Lions vanjaar, het die Bulls verlede jaar nie teen een Nieu Seelandse span gespeel nie en in die proses vierde in die Afrika-1 konferensie geëindig. Daarmee het Handré Pollard ʼn ernstige besering in die voorseisoen opgedoen en ʼn groot groep nuwelinge het verantwoordelikheid geneem in 2016, waarop hulle hoop om voort te bou in 2017. Vanjaar is dit egter ʼn perd van ʼn ander kleur, met wedstryde teen al vyf die Nieu Seelandse franchises. Pollard staan in as kaptein totdat Adriaan Strauss reg vir speel is na ʼn operasie.

As die Bulls sukses het tot na die rondomtalierondtes, kan hulle tevrede wees met vanjaar se vertoning.

Lood de Jager is ʼn groot aanwins vir die Bulls vanjaar. Hy was die SA Rugbyspeler van die Jaar in 2015 en sluit hom aan by RG Snyman en Jason Jenkins.

Lappies Labuschagne is egter verlore vir hulle nadat hy na die Kubota Spears in Japan toe is. Bjorn Basson is ook verlore vir die Bulls, nadat hy sy vertrek na die Stormers geneem het.

Jamba Ulengo sal ook vanjaar dopgehou word. Hy het verlede jaar sy Toetsdebuut teen Wallis gemaak.

Die Cheetahs sal graag wil tap uit hul Curriebeker sukses en dieselfde momentum wil oordra Superrugby toe, nadat Franco Smith hulle met 10 ononderbroke wenne na die Curriebeker titel toe geneem het.

Die feit dat hulle die laaste drie seisoene in die algehele laaste vyf posisies klaargemaak het, spreek van die span se onbestendigheid in die Superreeks, maar met Smith wat aan die einde van die noodlottige Bokjaar deur die nasionale afrigter nader geroep is, is heelwaarskynlik net die antwoord waarop Vrystaters gewag het.

Die span het die meerderheid van sy senior spelers behou en gaan die seisoen tegemoet met ʼn groep wat, soos die Lions, eerder werksetiek het as groot name.

Hulle speel, soos die Bulls teen al vyf die Nieu Seelandse spanne, maar drie daarvan tuis en het die ekstra bonus dat hul eerste vyf wedstryde in Bloemfontein gespeel word.

Ondersteuners sal jou gou vertel van hul nuwe “Os”, naamlik Ox Nche wat die oog verlede jaar gevang het en hom die Curriebeker Speler van die Jaar gemaak het.

Francois Venter is duidelik ook baie gelukkig in die nommer 13-trui en sal wil bewys dat hy na enkel chirurgie, sy oog op die Groen-en-Goue buitesenterposisie het.

Tom Botha van die Kings sal in die voorry ʼn aanwins wees, maar die Cheetahs sal die jong generaal, Lood de Jager in die lynstane mis.

By die Sharks gaan dit baie beter, dankie, word gesê.

Gary Gold is vervang met Robert du Preez as afrigter en Pat Lambie is die nuwe kaptein. Verlede jaar het die span, teen alle verwagtings in, die uitspeelrondtes bereik nadat hulle ʼn nagmerrie jaar ondervind het met ʼn 41-0 verloor teen die Hurricanes.

Vanjaar speel hulle in die eerste twee wedstryde teen die Reds en Brumbies en daarna keer hulle vir ʼn lang ruk terug Kings Park toe. Hulle speel dan die Argentyne en Sunwolves weg, maar teen daardie tyd behoort die span ingeburger te wees en kan beide weg-wedstryde wen.

Die span se grootste verlies is Marcel Coetzee wat Ierland toe is, waar hy vir Ulster gaan speel.

Die inkoop van veteraan heelagter, Clement Poitrenaud (34) het wenkbroue laat lig, maar hy kan mentorskap vir 2017 na die span bring.

Een span wat al hoe meer teleurstel is die Stormers. In ses seisoene het hulle vierkeer in die uitspeelrondtes uitgeval. Die span se Nemesis is duidelik in die uitkloprondtes en dit lyk nie asof hulle vanjaar hond-haaraf gaan maak nie. Die huidige formaat van die kompetisie maak dat drie van die SA-spanne teen die Australiërs speel, en die ander drie teen die Kiwi’s.

Vanjaar speel die Bulls, Cheetahs en Stormers teen die Nieu Seelanders in die rondomtalierondtes.

Die span het soos die Bulls in 2015, verskeie Springbokke verloor en dit kan hulle duur te staan kom teen die Nieu Seelanders. Die feit dat daar groot onsekerheid heers oor spelers se kontrakte na die likwidasie van die unie, is ook nie ʼn hulp vir hul aanslag nie.

Seabelo Senatla is uit die Blitsbokke gekontrakteer en dit mag dalk net die nodige inspuiting gee agterlangs wat die Stormers nodig sal hê. Die spoedvraat kan ook verdedig en dit sal goed wees om sy vordering by die 15-man kode dop te hou.

Pieter-Steph du Toit het goeie opgang gemaak in 2016, soveel so dat hy as Speler van die Jaar aangewys was. Hy en Eben Etzebeth sal goed opgepas moet word met die oog op die sukkelende nasionale span wat in Junie teen die Franse speel.

Verlede jaar se houtlepels, die Southern Kings mag dalk net weer sukkel vanjaar, nadat hulle in die gesamentlike 17de posisie op die log was.

Verlede jaar was daar voorseisoense krapperigheid oor spelerskontrakte en dit het bygedra tot die onbenydenswaardige titel as die bonuspunt-vorderaars van die kompetisie.

Vanjaar mis hulle die Kiwi spanne en alhoewel hulle dalk mag verras met ʼn goeie stryd teen van die Australiese spanne, maar ʼn massa-eksodus van spelers aan die einde van 2016 kan beteken dat Deon Davids se span weereens die laaste deel van die log kan inneem.

Wenne teen die Force, Rebels, Reds en Sunwolves mag dalk net hul gemoed en spelpeil lig. Die franchise mag egter die verlies van Edgar Marutlulle (Bulls) deeglik voorlangs voel. Die haker is ʼn ekstra losvoorspeler op die veld maar Ross Geldenhuys wat laasjaar nog vir die Highlanders gespeel het, sal hul voorry se sterkte aanvul.

Related Posts

« »