ONDERHOUD MET DIE BULLS SE SPANDOKTER, DR.ORG STRAUSS #PaleToe

Feb 21 • General News, Pale Toe • 3657 Views • Comments Off on ONDERHOUD MET DIE BULLS SE SPANDOKTER, DR.ORG STRAUSS #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

 

Op enige gegewe tyd in ‘n seisoen is daar spelers met beserings, dis deel van rugby en afrigters vrees die “b-woord” meer as enige ander krisis wat sy spelers kan oorkom.

Rugby is per slot van sake ‘n harde kontaksport en ‘n man se lyf kan net soveel vat voordat hy die prys betaal.

Die bestuur van ‘n beseerde speler is seker een van die mees belangrikste en mees onvoorspelbare deel van afrigting en spandokters sal jou gou vertel dat dit letterlik ‘n spanpoging verg om hierdie groep spelers reg te bestuur.

Verby is die dae van Uli Schmidt, spandokter van die Springbokke in 2002-2004, wat volgens oorlewering sou gesê het “snotneus is maar ook ‘n siekte waarmee die spelers hoofsaaklik sukkel”. Rugby het aan beweeg en die mediese aspek van die spel is net so belangrik as ander aspekte van afrigting en bestuur.

Rugbyspelers van die moderne era is multi-professionele sportmanne en –vroue. Hul oefen, leef en ontspan anders as hul voorgangers.

Die professionele era het ‘n gesorg dat ‘n bestuurspan rondom die spelers ontplooi moet word om te verseker dat elke speler doen waarvoor hy betaal word, naamlik om rugby te speel.

Maar hoeveel weet ons regtig van spelers se bestuur af as dit by beserings kom?

Pale Toe! het gaan inloer by een van die land se mees gerespekteerde spandokters, Dokter Org Strauss van die Blou Bulle.

Die “Dok” is aan die woord: “rugby word deesdae wetenskaplik benader en ‘n ou probeer die spelers se kondisionering so goed as moontlik te kry. Hy moet fiks en sterk wees en hy moet goed in sy posisie kan inpas. Hierdie aspekte kry baie aandag in die voorseisoen en natuurlik in die seisoen self. Rugby is ‘n kontaksport en beserings kan traumaties wees, soos wat met Werner Kruger gebeur het. Party seisoene is jy gelukkig en ander seisoene loop die beseringspook vroeg.”

“Die mediese span bestaan uit die dokter, fisioterapeute, masseurs, biokinetici en dieetkundiges. Soos wat die spel verander, moet ons aanpas hoe ons die ouens kondisioneer en bedag wees hoe ons medies en wetenskaplik na hulle kyk.”

Is daar ‘n mediese prosedure wat gevolg word as ‘n ou só seerkry soos hy, wou ek weet?

“Ja, ons doen eers MR-skanderings om die omvang van die besering vas te stel en afhangende van die erns van die besering, sal hy ‘n spesialis konsulteer. Dit mag beteken dat die speler geopereer moet word om die skade te herstel. Daarna begin ‘n lang rehabilitasie proses. Dit begin by die fisioterapeut en eindig by die biokinetikus voordat hy terug is op die veld.”

“Die spelers se opwarming op-en van die veld af is ook baie belangrik en hulle word onder die wakende oog van ‘n kondisioneerder, byvoorbeeld voor ‘n oefening en dan natuurlik voor ‘n wedstryd, geoefen. Ongelukke kan oral voorkom, in die gym, op die veld en dis baie belangrik dat die speler se lyf optimaal opgewarm moet word voordat hy begin speel.”

Wat van strapping, ek sien julle spandeer baie tyd daaraan voor ‘n oefening en ‘n wedstryd?

“ Dis maar een van die belangrike komponente maar dit gaan eerder oor die kondisionering van die speler en ons kyk ook na die speler se beserings geskiedenis. Ons praat nie van rehabilitasie nie maar eerder van pre-habilitasie, wat insluit die versterking van ‘n knie of skouer of enkel waarmee hy chronies sukkel. Daardie gewrigte moet sterk gehou word en alhoewel strapping ‘n rol speel, het ons ‘n holistiese benadering oor die speler se algemene kondisie. My opinie is dat daar sekere gewrigte is wat meer baat by voorkomende strapping, maar daar is ander gewrigte wat ons nie graag strap nie. ‘n Enkel is byvoorbeeld goed om te ondersteun maar ‘n knie beweeg op verskeie vlakke (heen-en-weer) en ons wil nie sy mobiliteit inperk nie. Dis dieselfde met ‘n skouer, ons wil die skouer so natuurlik as moontlik laat beweeg sonder om dit te veel in te perk.”

“Flip van der Merwe se pektorale besering is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n spier kan skeur. Dis binne-in die deel wat aan sy borsbeen heg en dit kan nie konserwatief hanteer word nie (massering en strek), daar moet opereer word om die spier weer aan die been te heg. ‘n Goeie chirurg is dus noodsaaklik en na die operasie word die besering vir ten minste ses weke geïmmobiliseer. Na die ses weke kan hy eers weer begin werk aan kondisionering en verdere rehabilitasie. Dis dus ‘n lang proses as die speler ernstig beseer word.”

As kondisionering so belangrik is, skryf julle sekere toerusting, byvoorbeeld die tipe toks voor waarmee hy moet speel en oefen?

“Jy sal iets kan doen aan sy toks, maar alle velde se oppervlak is nie dieselfde nie. Die lengte van die studs is belangrik. As die veld hard is, moet die studs korter wees en andersom by sagte velde. ‘n Voet moet ook nie plat en rigied bly nie, dit moet saam met die enkel en knie kan beweeg en weereens sal kondisionering (die sterk maak van die hele been) baie belangrik wees.”

Wat van medikasie en voeding terwyl die speler besig is om te herstel?

“ Ja, ons kyk na sy medikasie om seker te maak daar is geen verbode middels in nie en ons het ‘n dieetkundige wat kyk na die speler se lyf. Ons probeer die speler anders fiks hou deur hom te laat fietsry en swem en kardiovaskulêre oefening te laat doen. Ons wil hom ook nie laat vet word terwyl hy nie kan oefen nie, so hierdie aspekte is belangrik en word deur ons bestuur.”

Watter verantwoordelikheid het ‘n beseerde speler teenoor julle as mediese span in die gesondwordproses?

“As dit ‘n sagte weefsel besering is moet hy so stil as moontlik wees vir so drie dae na die besering. Ons immobiliseer die besering, ons gee vir hom ys en kompressie op die seerplek en soos wat die swelling sak, kan ‘n mens ‘n beter opinie vorm oor die aard van die besering. Ons sal dan besluit of hy ‘n sonar of MR-skandering moet kry en of dit dalk nie so ernstig is nie, waarna hy na die fisioterapeut toe gaan. Die ernstige beserings bring soms groot frustrasie vir die speler mee en ons probeer hom help om, binne perke, weer so mobiel as moontlik te word om die herstelproses te bespoedig. Hierdie ouens wil rugby speel en elke speler verskil hoe hy sy herstelproses bestuur. Op die ou einde is ons steeds ‘n span wat na sy belange omsien en ons werk saam om die herstel te bestuur.”

Wat van wedstrydfiksheid en oorgebruik van ‘n speler. Dit kan sekerlik bydra dat spelers kan seerkry?

“ Ons kyk gereeld na die ouens se algemene kondisie. As ‘n ou se hartklop te hoog raak oor ‘n tydperk, kan dit beteken dat hy homself begin ooreis. Ons sal die speler dan roteer en seker maak hy rus sonder om sy fiksheid te verloor.”

Laaste opmerkings?

“Dankie ja, rugby is ‘n professionele span sport en baie fisies. Ons probeer die manne so bestuur dat hulle hul spelersloopbaan so lank as moontlik kan uitrek. Dis tog waarom hulle rugby speel. Ons is daar as mediese span om te verseker dat hulle die heel beste ondersteuning kry medies gesproke. Dit maak die spanwerk so lekker en die moeite werd!”

 

Dr Org Strauss is ‘n gebore Pretorianer. Hy sê dit oor homself: “Doctor of the Bulls,sports lover,fitness fanatic,Doctor @ Tuks HPC in Pretoria”

Volg hom op Twitter by @orgstrauss

 

Artikel deur Simon Riekert

Related Posts

« »