Regent Boland Kavaliers troef WP XV-tal

Jun 20 • General News, South Africa • 4234 Views • Comments Off on Regent Boland Kavaliers troef WP XV-tal

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Met die afskop van die Absa Curriebeker-kompetisie minder as 10-dae weg, het die Regent Boland Kavaliers Woensdag ‘n reuse tree in die regte rigting gegee toe hulle afgereken het met ‘n DHL Westelike Provinsie XV-tal op die Boland Stadion in Wellington.

 

Die Kavaliers het uiteindelik met 21-10 geseëvier en het ‘n paar mooi bewegings in die proses uitgevoer en selfs ‘n paar keer netjies afgerond, maar moes ‘n taai aanslag in die eerste helfde verwerk voor hulle ‘n houvas op die Streeptruie in die tweede helfde kon afdwing.

 

WP het veral goed geskrum in die eerste helfde en was ‘n handvol in die losgemale. In gebroke spel het WP ook telkemale met die bal baljaar, met veral die losskakel Tim Swiel wat die Kavaliers se verdediging deeglik beproef het.

 

Boland het egter vuur met vuur beveg in die tweede helfde. Eerstens het die tuisspan ‘n goeie platvorm in die vaste skrums begin bewerkstellig en tweedens het Eric Zana in die nommer 10-trui besluit om sy WP-eweknie self met ‘n dartellopie of twee te betrap. Zana het ‘n goeie wedstryd beleef en spelers soos Brendon April (vleuel) en Johnathan Francke (heelagter) kon in die tweede helfde ook veel-beter vertoon met voorvoet-balbesit. Voorlangs het Ben Venter (slot/flank) uitgeblink en ‘n reuse bydrae gemaak om die sagmaakwerk voorlangs te verseker.

 

Zana se vertoning sal veral vir Eugene Eloff en sy mede-afrigters van Boland rustig laat slaap, aangesien die gereelde losskakel Ricardo Croy (toer saam met SA Presidents XV-tal) nie verkiesbaar was vir die wedstryd nie, terwyl die Kavaliers se nuutste losskakel aanwins, Len Olivier, eers aanstaande week vanaf Frankryk by die Kavaliers sal aanmeld.

 

Nóg ‘n rede waarom Eloff tevrede sal voel, is die feit dat die nuwe spelers in die groep almal skaflike buigings gemaak het. Eloff kon ook sy diepte beproef, aangesien gesoute spelers soos Ashton Constant, Jacquin Jansen, Zandre Jordaan en Ntando Kebe (saam met Croy) nie beskikbaar was nie weens hul betrokkenheid by die SA Presidents XV-tal.

 

“ Ons wil nie te veel in die telling lees nie aangesien ons hoof-doelwit was om ons nuwe spelers op die proef te stel en ook om verskeie kombinasies te beproef,” sê Eloff. “Waaroor ek wel bly is, is die feit dat ons alles gesien het wat ons wou sien en toe ons eers ons ritme gevind het, het ons gevaarlik gelyk. Ons is nou in die pylvlak van die Curriebeker-kompetisie en sal gereed wees vir die Luiperds aanstaande naweek.”

 

Die Kavaliers skop hul Absa Curriebeker Eerste Divisie veldtog Saterdag 29 Junie af op die Boland Stadion teen die Luiperds.

 

  • In nóg indrukwekkende vertonings vir die Boland Rugby Unie, het die Boland Rugby Akademie (oftewel die Boland o.21’s) twee spanne in die veld gestoot teen spanne van die Westelike Provinsie se Rugby Akademie, met beide Bolandse spanne wat gerieflik geseëvier het met 36-0 en 55-19.

Related Posts

« »