SPRINGBOK RUGBY IS OP ‘N SLEGTE PLEK IN ONS GESKIEDENIS #PaleToe

Jun 13 • General News, Pale Toe, Springboks • 2763 Views • Comments Off on SPRINGBOK RUGBY IS OP ‘N SLEGTE PLEK IN ONS GESKIEDENIS #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #Pale Toe skryf:

 

“Daar is nie ʼn nuwe of ou era in Springbokrugby nie”, sê Naas Botha, “jy kan praat van ʼn Heyneke Meyer-era of ’n Allister Coetzee-era, maar Springbokke kom en gaan elke jaar, jy sal altyd wisseling hê”.

 

Voor die skok-nederlaag teen Japan in verlede jaar se Wêreldbeker, was die bravissimo van die Springbokke en hul ondersteuners, hemelhoog. In die geval van die onlangse verloor van die Bokke teen Argentinië (37-25 in die 2015 Rugbykampioenskappe) en Wallis (in die Millennium Stadion 12-6 in 2014), was die nederlae afgeskryf as “ongelukkig” en ʼn “glips”.

Nou het Saterdag se “glips” teen Ierland gewys dat die Bokke nie meer so onoorwinlik is soos wat hulleself en hul ondersteuners wil glo nie. Lank vergane is die tyd dat daar na die spanne hierbo verwys sou word as “vir seker ʼn wen”. Elke sogenaamde gemiddelde internasionale span, het nou ʼn Springbokoorwinning in die visier, selfs hier in ons eie agterplaas.

Daar sal nog baie gesê word oor laas Saterdag se veglustigheid van die Iere om met alles teen hulle, só terug te veg dat die nuut aangestelde Allister Coetzee nie anders kon as om sy span as “ons was treurig” te bestempel het nie. Dat die span inderdaad naïef was om te glo dat hulle sonder taktiek teen die Iere kon speel, is fataal. Dat daar geen werkbare planne was tydens die spel om die Iere te probeer stuit nie, is die doodskoot. Vir die grootste deel van die wedstryd was dit 15 individue wat iets probeer het, en dit was duidelik dat die Springbokke en hul afrigters soos doellose individue rondgehang het. Dit was ʼn skande om daarna te kyk, nuwe era of te not.

“Daar is nie ʼn nuwe of ou era in Springbokrugby nie”, sê Naas Botha, “jy kan praat van ʼn Heyneke Meyer-era of ’n Allister Coetzee-era, maar Springbokke kom en gaan elke jaar, jy sal altyd wisseling hê”.

Dis duidelik dat die vuurdoop Saterdag al hoe nader aan die krans van rugby se ineenstorting stuur. Beide Ockie Oosthuizen en Naas Botha vra al ʼn geruime tyd dat die struktuur van rugby in Suid Afrika verander moet word om sentralisering te bewerkstellig. Beide oud-spelers praat in die rigting van privatisering van die spel op provinsiale en nasionale vlak om sodoende beter beheer oor spelers en afrigters te hê.

Of dit die gewenste uitwerking gaan hê of nie, feit is Coetzee se Saterdag-eksperiment op Nuweland was ʼn flop. Die spelers was óf oorgerus oor die Iere se diepte, óf hulle was onvoorbereid om die sprong van Superrugby na internasionale rugby te maak. En boonop was dit sonder dat hulle geweet het wat hul afrigter se spelpatroon was.

Die realiteit van Toetsrugby is dat die spanne nie tyd het om hul blapse te gaan regmaak soos in Superrugby of ʼn soortgelyke toernooi nie. Jy wen of verloor ʼn Toets en dis deel van jou span se geskeidenes.

Dat Joe Schmidt se uitgeslape taktiese ontleding van die Springbokke se spel in die kol was, gaan wondere verrig vir hul selfvertroue en is ʼn groot hulp vir sy span se doel om die reeks teen Suid Afrika op eie bodem te beklink.

Is daar soveel skade gemaak deur die inmenging van politici die afgelope paar jaar, sê nou maar van Jake White se tyd? Want elke afrigter en speler sedert die White-era moes hoor hy is te wit of hy is ʼn kwota speler, elke afrigter was net nie goed genoeg nie.

Net soos die meeste ander liefhebbers van ons nasionale spel, is ek dik en gatvol vir die woord transformasie. In plaas van om die “hoe” van transformasie te laat werk, is SARU en Fikile Mbalula besig om met vuur te speel. Hy verkondig van elke narsissistiese platform af dat sy departement terug staan sodat die sportkodes self die reëlings maak oor hul funksionering. Mbalula en sy groep uitgevretenes staan dan ewe gemaklik terug en kritiseer en dreig. SARU weet eenvoudig nie hoe om rugby in Suid Afrika te bestuur nie en hulle is nie die enigste sportkode met die gebrek nie.

Maar terug by Coetzee; hy het reeds die transformasie etiket om sy nek gehang en al is hy dapper om te verkondig dat hy die welbekende lot van die Springbokafrigter najaag, moet hy dit doen in ʼn atmosfeer wat die einste Mbalula vergiftig en SARU met gevoude hande staan en aanskou.

Die lojale Bok-ondersteuner is gatvol hiervoor, en bitter min van hulle sal nie ʼn gekleurde speler wat op meriete in die span is en sy lyf op die spel plaas, ondersteun nie. Waarvoor hulle gatvol is, is die gebrek aan prestasie. Om ’n Springbok te word, is die hoogste eer wat jou land jou mee kan vergoed vir jou talent. Ek is nie seker of hierdie eerbetoon nog die waarde het wat dit ʼn dekade of wat gelede gehad het nie, en ek is ook nie seker of die ondersteuners dit langer gaan verduur nie.

Of Allister genoegsame tyd gehad het om sy span Springbokke vir die Ierse toets voor te berei of nie, is bysaak. Op hierdie nasionale, professionele vlak, kan jy rugby speel of nie en ‘n Springbokafrigter gaan min aan spelers se spelvermoë doen op ʼn afrigtingskamp.

As Mbalula dus soos berig word, op die vooraand van die Toets vir die Springbokke vertel dat sportfederasies verbied sal word om groot toernooie aan te bied as hulle kwotas agterwee bly, is hy besig om ʼn vuurhoutjie te soek vir ʼn groot drom petrol. Dit jaag spelers en ondersteuners weg en dit maak transformasie ʼn belaglikheid.

Dat Coetzee en sy groep ʼn reuse bult het om uit te klouter voor volgende Saterdag, is gewis.

Een ding is ook seker en dit is dat hy wel sy internasionale spelers sal moet nader trek, hoe edel sy plan ookal is om plaaslike spelers te vergoed.

Heyneke Meyer het hierdie fout teen die Walliesers in 2014 gemaak en 12-6 verloor.

Coetzee kan nie bekostig om hierdie fout te herhaal nie en ter wille van vooruitgang met die spel en die sekerheid by spelers te skep dat hul die trots en onoorwinlikheid van die Springbok dra, wit of swart, moet die Bokke eenvoudig met oortuiging terugkom in Johannesburg.

Dis een van die laaste geleenthede wat daar nog oor is om ʼn bietjie nasionale, Springboktrots te herstel.

Foto: Anton Geyser / Rugby 15

Related Posts

« »