VOORSKOU: BLOU BULLE TEEN WESTELIKE PROVINSIE #PaleToe

Oct 16 • General News • 2118 Views • Comments Off on VOORSKOU: BLOU BULLE TEEN WESTELIKE PROVINSIE #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert #Paletoe!

 

Tussen Vier Lyne: hier loer ons in ons eie kristalbal en trek die sluier so effens weg agter die groot Curriebeker rugby van die naweek. Vandeesweek se eerste semifinaal is tussen die twee aartsvyande van die suide en die noorde: die WP en die Bulle.

 Dit was een van die warmste paar weke in die geskiedenis van Pretoria. Die Jakarandas is vol in die blom en teen die einde van die week het die donderweer en harde reënbuie weer hul pad teruggevind Hoofstad-toe.

So het die Blou Bulle op Loftus Versveld se B-veld liters water en sweet gegee en geneem ter voorbereiding van hierdie deurbraak na 7 maer jare. Uiteindelik!, sê die Bul ondersteuners, is hul rugby weer op die regte spoor en hul span het vanaand die geleentheid om twee mylpale te bereik: onttroon die huidige Curriebeker kampioen en bespreek ʼn plek in die eindwedstryd.

Barend van Graan en sy Bul-bestuur sal straks breed glimlag oor Nollis Marais se aanstelling as Curriebeker-breier.

Marais het met sy andersoortige benadering tot die spel en die spelers, ʼn vars bries in die muf van onsuksesvolle tradisie ingeblaas. Dit voel soos wêrelde wat versit is sedert die dae van Pine Pienaar en Frans Ludeke.

Die twee spanne ontmoet die derde keer in vanjaar se kompetisie en die wen telling is twee-elk. Vir meer kop-aan-kop kan jy nie vra nie.

Verlede jaar was die Bulle aan die ontvangkant in die semifinaal op Nuweland en alhoewel kaptein Lappies Labuschagne dit doodpraat, bly dit ʼn netelige sakie vir die jong blou span. Die WP het die 2014 kampioen geword nadat hulle die Lions met 19-16 gewen het.

Beide spanne se nuwe afrigters het gewys dat hul ervaring met die junior spanne van hul unies handig te pas kom.

John Dobson meen egter dat die WP nie goed gefokus is by die herstel van fasespel nie.

“Dit het ons 18 of 19 punte gekos op Loftus en ek dink 21 op Ellis Park, “ het hy gesê.

“Ons het meer hervatting in sekere wedstryde, meer as skrums, en ons sal vandeesweek seker maak dat spelers wat die bal ontvang gereed is en hoe ons die spel sal herstel.

“Die Bulle is verdienstelike semifinaliste op hul tuisveld.”

Die Bulle se afrigter Nollis Marais wil hê sy span moet speel soos hulle aan die begin van die toernooi gespeel het.

“Ek gaan nie nou druk op die manne plaas en sê dat ek dit en dat verwag nie. Dis reeds ʼn groot prestasie en verantwoordelikheid vir die spelers om ʼn tuis semifinaal te hê, en as hulle speel soos wat hulle veronderstel is, sal die resultaat gunstig wees.

“Ek is dankbaar dat die spelers ingekoop het om die unie weer trots te maak en om die lojale ondersteuners terug te bring. Dit is wat die spelers se spel lig-om vir die trui en die mense te speel.”

Marias het vir Jacques du Plessis terug gebring op no-4 slot, nadat hy onttrek het voor die wedstryd teen die Pumas in Nelspruit.

Rudolph Snyman, wie Du Plessis in die Pumas wedstryde vervang het, is terug op die bank, maar sy plaasvervanger in Nelspruit, Jason Jenkins, behou sy plek op die bank.

Jenkins neem oor by Ruan Steenkamp as die vierde losvoorspeler wat meer oemf na die bank bring.

WP se Cheslin Kolbe, vleuel Seabelo Senatla, senter Johnny Kotze, flank Rynhardt Elstadt, slot Ruan Botha en haker Bongi Mbonambi is terug in die beginspan.

Elstadt en sy kaptein Juan de Jongh sal die verdedigende kampioene se aanslag lei en met Johnny Kotze, Senatla, Dillyn Leyds en Kolbe ingesluit, lyk die agterste driehoek gevaarlik.

Nic Groom en Robert du Preez is die begin skakelpaar en Jano Vermaak is terug na drie weke se gespook met ʼn liesbesering.

Voorlangs is Oliver Kebble se enkel weer reg en hy en slotmaat Chris van Zyl begin van die bank af.

 

Die kristalbal sê dat Dries Swanepoel se vaart ʼn toets gaan wees vir Johnny Kotze en Juan de Jongh. Jamba Ulengo rond puik af en as die Bulle se voorspelers met die WP kan afreken, kan die jong vleuel gereeld agter die doellyn kuier.

As die Bulle se losskakel Tiaan Schoeman torpedokoppe loods en die tuisspan sy spelpatroon verbreed, sal hul rekening moet hou met Cheslin Kolbe. Hy het die vermoë om binne sekondes verdediging in aanval te omskep en is ʼn man wat jakkalsdraaie kan hardloop. Die ewe groen losskakel van die WP, Robert du Preez en Schoeman sal mekaar fyn dophou om hul spanne op die voorvoet te hou.

In die skrums sal die jong Bul, Pierre Schoeman en Wilco Louw mekaar hard aanvat en gedagtig daaraan dat die skeidsregter Pro Legoete nukkerig is by die reëls van die vaste fasette, kan dit sorg dat die telbord gaan rol.

 

Spanne:

 

Blou Bulle: 15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Francois Hougaard, 8 Arno Botha, 7 Pieter Labuschagne (kaptein), 6 Deon Stegmann, 5 Marvin Orie, 4 Jacques du Plessis, 3 Marcel van der Merwe, 2 Bandise Maku, 1 Pierre Schoeman.
Plaasvervangers:  16 Corniel Els, 17 Werner Kruger, 18 RG Snyman, 19 Jason Jenkins, 20 Ivan van Zyl, 21 Louis Fouché, 22 William Small-Smith.

 

Westelike Provinsie: 15 Cheslin Kolbe, 14 Dillyn Leyds, 13 Johnny Kotze, 12 Juan de Jongh (kaptein), 11 Seabelo Senatla, 10 Robert du Preez, 9 Nic Groom, 8 Nizaam Carr, 7 Sikhumbuzo Notshe, 6 Rynhardt Elstadt, 5 Ruan Botha, 4 Jean Kleyn, 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 Steven Kitshoff.

Plaasvervangers: 16 Michael Willemse, 17 Oliver Kebble, 18 Chris van Zyl, 19 Jurie van Vuuren, 20 Jano Vermaak, 21 Kurt Coleman, 22 Huw Jones.
Stadion: Loftus Versfeld, Pretoria
Afskoptyd: 19:00
Skeidsregter : “Pro” Lesego Legoete
Assistent skeidsregters: Stuart Berry, Quinton Immelman
TMO: Christie du Preez

 

  • Volgens die Blou Bulle Maatskappy is daar nog baie kaartjies beskikbaar en teen ʼn beginprys van R40 klink dit na “bargain”.
  • bulls.ticketpro.co.za of by die hekke

Foto: Anton Geyser

Related Posts

« »