DIE ONTNUGTERING VAN SUPERUGBY #Paletoe

May 22 • General News, Pale Toe, Super Rugby • 2118 Views • Comments Off on DIE ONTNUGTERING VAN SUPERUGBY #Paletoe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #Paletoe

 

“Die uitspeelfase van die toernooi is die mees ongenaakbare en voordat ‘n afrigter en sy spelers dit besef, is dit reg of weg.”- Werner Swanepoel Springbok Skrumskakel

 

Met vier weke se ligawedstryde in die SupeRugby-toernooi nou oor, is dit te verstane dat afrigters sleg begin slaap.

Elke wedstryd wat nou oorbly vir die ses top spanne is bepalend van wie in die uitspeelfases gaan wees en wie sal moet toer in die uitspeel wedstryde, sou hulle wel die top ses op die punteleer haal.

 

Bulls

Die Bulls se kanse om die uitspeelfases te bereik, het so te sê in die niet verdwyn na Vrydag se verloor teen die Chiefs. Die Lions en die Stormers het lank in hul nekke geblaas en die realiteit sal inskop teen Saterdag-aand as die punteleer tot ruste kom.

SupeRugby gaan veral daarom om die geleenthede wat die teenstanders bied, te omskep in benutte kanse. Die Bulls se arrogansie teen die Blues verlede naweek en Vrydag-oggend se dom rugby teen die Chiefs, het gewys dat die Bulls nie eens naby aan die titel is nie, nog te sê die Suid-Afrikaanse konferensie. Daar was meer as twaalf geleenthede vir die Bulls om die Chiefs behoorlik te bêre nadat hulle gemaklik met 15-3 voor was-(rustyd 15-elk), maar swak hantering, onoordeelkundige geskop en van-die-bal af krapperigheid het die Pretorianers se doppie geklink. Die ervaring van Matfield, Spies, Hougaard, Engelbrecht en nog ʼn rits ander Bokke in die span het tot dusvêr vir Frans Ludeke se span net mooi niks beteken nie. Dit moet ernstige rooi ligte laat flikker vir die trotse unie en driemalige kampioene, ʼn statistiese feit wat nou in die verre verskiet lê.

Sharks

Die ander Suid Afrikaanse kus span het uiteindelik sy wendroogte teen die Reds gebreek deur slim te speel en geleenthede te benut in Brisbane. Hul verdediging was strate beter en daar was min fout te vind met die skrumwerk. Steyn, Wentzel, Coetzee en die kaptein Marco Wentzel was aan die voorpunt van die grootliks verbeterde intensie waarmee bewegings uitgevoer is. Dit is vir baie Sharks ondersteuners bittersoet, want alhoewel hierdie span as een van die gunstelinge aan die begin van die toernooi uitgesonder is, het hulle dit aan hulself te danke dat wenne so skaars soos hoendertande was. Wees verseker dat daar na hul terugkoms in Durban, harde woorde gaan val oor hierdie span wat die teleurstelling van die seisoen is.

Lions

Die Lions het voor hierdie naweek se wedstryd teen die Cheetahs, vyftien punte nodig om die uitspeelfase te bereik. Om dit teen die Cheetahs, Waratahs en Stormers te kry, gaan als vat van een van die mees begeesterde spanne in die Supertoernooi, maar hierdie span het gewys dat jy nie ʼn groep oorbetaalde en onderpresterende Springbokke nodig het om jou stem met erns dik te maak nie. Hul afrigter, Johann Ackermann meen dat hulle op die drumpel van een van die beste toernooie vir sy span nóg, weekliks net dit wil doen wat nodig is om te wen. “Ons jaag nie totale en posisies op die punteleer nie. Ons speel die beste rugby wat ons kan elke naweek.”

Dit mag dalk dié wedstryd van die naweek wees, aangesien afrigters en mentors Naka Drotské en Os du Rand binnekort die span verlaat en die Vrystaters hierdie geleentheid sal wil gebruik vir ʼn groot dankie-sê.

Stormers

Die Stormers se uitspeel pad lyk nou so oop soos ʼn Gautengse tolpad, nadat hul aartsvyande, die Bulls die verkeerde afrit geneem het.

Allister Coetzee se span durf die Rebels op tuisbodem aan en die Australiërs het vroeër met die Crusaders en Brumbies op wegwedstryde afgereken. Derhalwe is Coetzee baie versigtig om, na die Bulls se verloor teen die Chiefs, té opgewonde te raak oor sy span se kanse.

“Ons beter opdaag teen hierdie span wat ʼn groot transformasie ondergaan het. Ons sal uiters sekuur te werk moet gaan in die agterlyn nadat ons besit afgewurg het, want voorlangs gaan dit ʼn wurgwedstryd wees.”

Die feit dat die Bilitsbok Seabelo Senatla ingesluit is in die beginspan, mag net die inspuiting wees waarop die Kapenaars wag. Toegegee, die jong Blits het verlede jaar maar eers sy 15-man tande gekry in die Curriebeker reeks, maar volgens Coetzee het hy gesien waartoe die jong vleuel in staat is.

Benewens die Bloemfonteinse derby tussen die Cheetahs en die Lions, sal hierdie wedstryd Saterdag-aand sorg dat braaivure vroeg aangesteek word en daar tot in die nanag hout sal brand.

 

Die Suid Afrikaanse spanne se oorblywende bepalings vir die liga fase is soos volg:

 

Bulls:

Brumbies v Bulls (29/05), Rebels v Bulls (06/06), Bulls v Cheetahs (13/06)

Lions:

Cheetahs v Lions (23/5), Lions v Waratahs (30/5), Stormers v Lions (06/06)

Stormers:

Stormers v Rebels (23/5), Stormers v Cheetahs (30/5), Stormers v Lions (06/06), Sharks v Stormers (13/6)

Sharks

Sharks v Rebels (29/05), Sharks v Stormers (13/06)

 

Related Posts

« »