JOOST SE EINDFLUITJIE BLAAS

Feb 6 • General News • 1158 Views • Comments Off on JOOST SE EINDFLUITJIE BLAAS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die Springboklegende Joost van der Westhuizen is Maandag na ʼn lang stryd met amiotrofiese laterale sklerose-ALS by sy huis oorlede in die ouderdom van 45 jaar.

Hy is Saterdag in die waakeenheid van die Fourways Life-hospitaal in Johannesburg opgeneem, nadat sy toestand kritiek geword het.

Die skrumskakel met die ‘uitgewasde blou oë’ het op vyfjarige ouderdom (1977) vir die eerste keer opgedraf vir die Laerskool Derdepoort en in 2003 sy uittrede aangekondig na ʼn uitsonderlike rugbyloopbaan.

“Dit was die manier waarop ek myself kon wees, ander kinders het fietsgery, gehardloop”, het hy in sy boek ‘Joost, The Man in the Mirror’ geskryf.

Joost Heystek van der Westhuizen was Springbok nommer 593 en het sy debuut vir die Blou Bulle in 1992 gemaak.

Hy is deur spanmaats, familie en ondersteuners as ‘iemand met ʼn  mengsel van konserwatisme, uitgesprokenheid, opinie-gerig en liberaal met ʼn selfversekerde arrogansie’ beskryf.

Sy oud-skoolhoof, die legendariese Mnr. Fonnie van der Vyver het verlede jaar tydens die FH Odendaal Hoërskool se reünie gesê Joost was ʼn besondere mens. Hy het Joost aangemoedig om te gaan studeer en ‘om ʼn graad te kry’, wat hy wel gedoen het by TUKS.

Joost vertel in sy boek dat hy as jong kannetjie gaan rugby kyk het op sy geliefde Loftus Versveld. Daar het hy na die wedstryd op die veld gehardloop om aan sy helde Naas Botha en Thys Lourens te raak. Ironies, toe Naas sy senior loopbaan begin het was Joost in Graad 1 en jare later draf die einste Joost saam met manne soos Naas Botha, Adriaan Richter, Jan Lock en Adolf Malan op vir die Blou Bulle.

Joost het in sy loopbaan 38 drieë in 89 Toetse gespeel en hy was lid van die legendariese 1995-Wereldbeker kampioenspan. Hy het sy Springbokdebuut in 1993 gemaak en sy laaste wedstryd in 2003 op die ouderdom van 32 teen Nieu Seeland.

Hy was ook in die 1998 Drienasies-kampioenspan, het in twee Curriebeker-eindstryde (1998 en 2002) gespeel en was lid van die Springbokke wat in 1995,1999 (as kaptein) en 2003 in die Wêreldbeker-toernooi gespeel het. Hy was ook ‘n Sewes Springbok.

Joost het vir geen ander provinsiale span behalwe die Blou Bulle gespeel nie; 144 vir die Curriebekerspan (22 keer as kaptein) en 26 keer vir die Superrugby-span, die Bulls.

Hy sal veral onthou word vir die duikslag op die reuse vleuel Jonah Lomu van die All Blacks tydens die 1995-eindwedstryd in die Wêreldbeker, wat andersins op ʼn seker drie sou uitloop.

“Ek was maar net op die regte plek op die regte tyd”, het hy later daaroor gesê.

Joost was ʼn man met ʼn opinie en ʼn skerp humorsin. Hy het die manne in die Groen-en-Goue blazers in hul koffie laat stik toe hy na die 1998-Curriebekersege van die Bulle gesê het dit is vir hom beter om die Curriebeker vas te hou as om die Wêreldbeker te wen, ʼn stelling wat hy later gekwalifiseer het. “Ek het ses jaar gewag om die Curriebeker te wen, nie een Springbok het nog so lank gewag vir die Wêreldbeker nie.”

Joost het groot respek vir sy losskakel-maat Henry Honnibal gehad, of “Lem” soos wat hy herdoop is na aanleiding van die losskakel se vermoë om teenstanders te duik. Joost, Honnibal en sy kamermaat op toer, die flank Andre Venter was byna ondeurdringbaar op verdediging.

Hy is in 2007 in die Rugby Roemsaal (International Hall of Fame) en in 2015 in die Suid Afrikaanse Heldesaal vir sport ingehuldig.

Joost het gespog dat hy nooit in ʼn verloorspan gespeel het in ʼn finaal nie.

Selfs aan die einde was dié legende nooit in ʼn verlore stryd nie, al het sy eindfluitjie geblaas.

 

Related Posts

« »